loading
Artikels
7 maande gelede
swaai-lesufi-die-septer-in-anc

Foto Krediet: Verskaf

Swaai Lesufi die septer in ANC?

Deur Nico Strydom

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, is die afgelope paar weke pal in die nuus. Dit blyk of Lesufi homself posisioneer as die leier van ʼn nuwe RET-faksie in die ANC wat ten doel het om pres. Cyril Ramaphosa te ondermyn.

Lesufi, voormalige LUR vir onderwys in Gauteng, blyk presidensiële ambisie te hê en volgens berigte is daar kommer in die ANC hieroor. Daar is onder meer vrae oor wie dan nou werklik die septer in die ANC swaai – pres. Ramaphosa of Lesufi, met laasgenoemde wat blyk om al hoe meer pres. Ramaphosa se gesag uitdaag.

Lesufi is onlangs liggies oor die vingers getik rakende sy uitlatings oor die regering van nasionale eenheid (RNE), en pres. Ramaphosa en die ANC is gekritiseer omdat daar nie strenger teen hom opgetree is nie. Lesufi het onder meer daarin geslaag om ʼn minderheidsregering sonder die DA in Gauteng in te stel. Hierna is die DA-burgemeester, Cilliers Brink, deur ʼn mosie van wantroue deur die ANC uit die kussings in die Tshwane-metro verwyder. Lesufi het gesê die besluite is geneem met steun van die ANC se nasionale leierskorps.

Intussen is daar ook kommer oor die rol wat Lesufi speel terwyl gesprekke oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) plaasvind. Ramaphosa het die Bela-wet in September onderteken, maar dele in dié wet, spesifiek artikels 4 en 5 wat onderskeidelik oor toelating en taal handel, is nie onderteken nie en word vir eers nie in werking gestel nie. ʼn Venstertydperk van drie maande is aangekondig vir verdere onderhandelinge en gesprekke om ʼn oplossing te probeer vind.

Lesufi en Matome Chiloane, nuwe LUR vir onderwys in Gauteng, het ʼn lang geskiedenis van vyandigheid teenoor enkelmedium- Afrikaanse skole. Lesufi het reeds in 2015 Afrikaanse skole gebrandmerk as “Afrikaanse enklawes” wat “onder die vaandel van taalbeleid” leerders uitsluit op grond van ras. Gedurende die tyd wat Lesufi self LUR vir onderwys was, het die totale aantal openbare skole in Gauteng van 2 070 in 2014 tot 2 061 in Desember 2023 gekrimp.

Lesufi het reeds aangedui dat hy en die Gautengse ANC wil hê die Bela-wet moet volledig toegepas word soos dit geskryf is. Solidariteit, AfriForum en ander rolspelers gaan intussen voort met gesprekke oor die gewraakte Bela-artikels en ʼn protesoptog vanaf die Voortrekkermonument tot by Vryheidspark word op 5 November om 09:00 gehou. Groot getalle mense het reeds op www.belaprotes.co.za geregistreer om aan hierdie massaprotes deel te neem.

Lesufi kry intussen ook die wind van voor oor bewerings dat hy korrupsie en bedrog in die provinsiale regering verdoesel het. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy die vermeende baasbrein agter ʼn politieke sameswering in die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) was om grootskaalse korrupsie te verbloem.

Tyd sal leer of die ANC vir Lesufi aanwend om sy ideologieë, wat nie met die RNE strook nie, te bevorder en of daar net vir die regte oomblik gewag word om Lesufi op sy plek te sit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel