loading
avatar
Artikels
4 dae gelede
te-slim-of-te-bang-ken-jou-regte-jong-werkende

Foto Krediet: OkayDeer

Te slim of te bang? Ken jou regte, jong werkende!

Deur Leré Nel

Jy begin jou eerste werk en skielik hoor jy woorde soos “kennisperiode”, “dissiplinêre proses”, “proeftydperk” en “oortydbeleid”. Jy knik maar net jou kop, want jy wil professioneel lyk. Maar as ons nou eerlik is – verstaan jy regtig wat al daardie goed beteken?

Of hoop jy maar net vir die beste?

Ons het met Michael Smith, koördineerder van Solidariteit Jongwerkende, gesels. Michael verteenwoordig al jare lank jong werkende lede van Solidariteit. Hy is die ou wat die foon antwoord elke keer as iemand bel.

En volgens hom is die meeste jong werkendes een van twee dinge: “te slim” of “te bang”. Hulle dink hulle weet alles van hul regte (terwyl hulle eintlik die pot heeltemal mis sit), of hulle dink die werkgewer se woord is wet – al klink dinge vir hulle baie sketchy.

“Die grootste probleem wat ons baie met jong werkendes kry, is dat hulle nie hul kontrakte lees of verstaan nie,” sê Michael. Met ander woorde: Hulle is “te slim”.

En ja… dit veroorsaak groter probleme as wat jy dink.

Een jong werknemer het byvoorbeeld byna daagliks oortyd gewerk omdat hy gedink het hy gaan daarvoor betaal word. Die probleem? Daar was nooit ʼn ooreenkoms daaroor nie, en hy was nie wetlik op oortydbetaling geregtig nie.

Aan die ander kant het Solidariteit ook al jong werknemers gehelp om duisende rande se oortydbetaling terug te kry omdat hulle wél daarop geregtig was. Soms vat werkgewers kanse, en jy gaan dit nie agterkom as jy nie jou regte ken nie. En soms vat jy kanse sonder dat jy dit eens besef.

Dís nou ʼn resep vir awkwardness tussen jou en jou baas…

Nog ʼn algemene fout? Ouers wat namens jong werknemers probeer “ingryp”.

Ja, dit gebeur wragtig!

Smith vertel van ʼn geval waar ʼn werknemer se ma die onderneming gebel het oor ʼn onderonsie wat haar seun met sy bestuurder gehad het. Dit het só erg geraak dat die werkgewer ʼn dissiplinêre proses teen die werknemer begin het omdat die werkverhouding totaal versuur het.

Ja… awkward.

Die waarheid is: Die werkplek het sy eie reëls, prosesse en verwagtinge. En niemand leer jou eintlik hierdie goed op skool of universiteit nie.

Dis presies hoekom Solidariteit Jongwerkende nou die perfekte hulpmiddel vir jong werkendes het: die aanlyn “Regsaspekte in die Werkplek”-kursus.

Die kursus is vinnig, maklik en prakties – perfek vir enigiemand wat wil verstaan hoe dinge soos dienskontrakte, oortydbetaling, dissiplinêre prosesse, verlof en werknemersregte werk.

Geen ingewikkelde legal jargon nie. Net praktiese kennis wat jou kan help om slimmer besluite in die werkplek te neem.

En wat as jy nie genoeg van ʼn pliggie is om in jou vrye tyd kursusse te voltooi nie? Dan is daar ook Solidariteit se splinternuwe Aanlyn regshulp, wat gratis beskikbaar is vir Jongwerkende-lede van Solidariteit.

Dink daaraan as jou eie arbeidsregsadviseur in KI-vorm, soos ChatGPT, maar met beter antwoorde op regsverwante vrae.

Jy kan vir Aanlyn regshulp vrae vra oor:

  • • dienskontrakte;
  • • verlof en werkure;
  • • dissiplinêre prosesse;
  • • ontslag;
  • • oortyd; en
  • • jou algemene regte in die werkplek.

Die beste deel? Jy kry vinnige, eenvoudige antwoorde sonder om ure lank op Google te probeer uitfigure wat aangaan. Hy praat soos ʼn prokureur, maar in verstaanbare Afrikaans. Niemand het tyd om te sukkel nie.

Volgens Michael is dit juis jong werknemers wat dikwels te bang is om hul regte uit te oefen.

“Baie jong werknemers dink hulle gaan outomaties geviktimiseer word as hulle ʼn grief indien of een van hul regte uitoefen,” sê hy. “Hulle dink die werkgewer se woord is wet.”

Maar dis nie hoe dit werk nie.

Jy hoef nie “te slim” of “te bang” te wees nie. Jy moet net ingelig wees. En met Solidariteit se kursusse én Aanlyn regshulp is dit gelukkig maklik.

Registreer jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en kry toegang tot die “Regsaspekte in die Werkplek”-kursus. En probeer vandag nog die nuwe Aanlyn regshulp!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel