
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Te stil om ʼn leier te wees? Dink weer, sê kenners
Deur Nico Strydom
Leierskap word dikwels gelykgestel aan charisma, beslistheid en ʼn bevelende teenwoordigheid.
“Die hardste stem in die vertrek of die mees gesellige persoonlikheid is geneig om te oorheers, en introverte – daardie stiller, meer gereserveerde individue – word dikwels oor die hoof gesien vir leierskapsposisies,” sê Advaita Naidoo, besturende direkteur van die werwingsagentskap Jack Hammer Global in Afrika.
Hierdie vooroordeel teenoor ekstroversie bring, volgens Naidoo, egter die risiko mee dat hoogs bekwame – selfs uitsonderlike – kandidate wat in senior rolle kan uitblink, op die kantlyn geskuif kan word.
“Introverte staar beduidende struikelblokke in die gesig om na middel- en senior bestuur te vorder, waar sigbaarheid, netwerkvorming en selfgeldende kommunikasie dikwels voorkeur geniet.
“Die aanvanklike persepsie van leierskap is geneig om ekstroverte, wat natuurlik in die kollig beweeg, te bevoordeel,” gaan Naidoo voort. In onderhoude sal ekstroverte kandidate byvoorbeeld dikwels vinnig ʼn verhouding bou wat positiewe eerste indrukke skep. Dit kan tot gevolg hê dat ʼn meer teruggetrokke kandidaat se kwalifikasies, prestasiegeskiedenis en potensiaal oorskadu word.
Introverte word dikwels as beskeie, skaam of selfs afsydig beskou en, volgens Naidoo, word hulle onderskat ten spyte daarvan dat hulle gelyke of groter substansie as ekstroverte het.
“Indien werkgewers nie bewus is van introverte vooroordeel nie, loop hulle die risiko om talent te verloor deur ekstroversie gelyk te stel aan energie of leierskapspotensiaal.
“Om die potensiaal van introverte leiers te benut, moet maatskappye vooroordele in aanstellings- en bevorderingsprosesse onder die loep neem,” sê Naidoo.
Naidoo voer verder aan dat die aanvaarding van introverte leiers nie net ʼn kwessie van billikheid is nie, maar ʼn strategiese noodsaaklikheid vir maatskappye om diverse leierskapspanne te bou wat innovasie dryf en vertroue bevorder.
“Dit is ook belangrik vir ambisieuse introverte om te verstaan dat hulle hulself nie hoef te verander nie – jy moet net leer hoe om jou omgewing te navigeer om jou sterkpunte te benut. Introverte skram dikwels weg daarvan om hul prestasies te prys, omdat hulle voel dat dit ʼn spoggery is en ook nie eg is nie. Bestuursrolle beloon egter diegene wat ʼn sigbare impak toon. Wanneer introverte se bydraes ongemerk bly, word hul kanse op bevordering verminder,” voeg Naidoo by.
Solidariteit wil werkendes bemagtig en een manier waarop dit gedoen word, is deur middel van beroepspesifieke voortgesette leer.
Solidariteit se leierskap en bestuur-kursus verduidelik nie net die verskil tussen leierskap en bestuur nie, maar beskryf ook die pligte en verantwoordelikhede van bestuurders, en hoe jy jou leierskapsvaardighede kan ontwikkel om jou loopbaan te bevoordeel. Hierdie is ʼn praktiese kursus en sluit ʼn selfassesseringstoets in.
Skep jou gratis Solidariteit-profiel en ontgin ʼn skatkis van hulpbronne wat jou kan help om die leier te word wat jy wil wees. Voortgesette leerkursusse is gratis vir lede van Solidariteit. Klik hier om meer te lees oor hoe jy vir voortgesette leer kan inskryf!