loading
Artikels
22 uur gelede
tien-eienskappe-van-n-ware-kantoorkampioen

Foto Krediet: Okay Deer

Tien eienskappe van ʼn ware kantoorkampioen

Deur Kyla-Ann du Toit

Vanaf Augustus 2025 vier die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk die onmisbare bydrae van kantoorpraktisyns regoor Suid-Afrika. Hulle is die stille helde van die kantoor wat met hul administratiewe vernuf en mensevaardighede die ruggraat van elke kantoor vorm. Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie gee erkenning aan diegene wat met trots, integriteit en grasie – dikwels stil en agter die skerms – werk.

Hier is tien eienskappe wat ʼn ware kantoorkampioen uitbeeld:

1. ʼn Probleemoplosser van formaat

Iemand wat oplossings vind voordat daar eers ʼn krisis ontstaan. Hulle dink vinnig, flink, kreatief en met ʼn koel kop – altyd op soek na wat wérk.

2. ʼn Meester van mensevaardighede

Of dit nou ʼn nuwe kliënt, ʼn kollega in trane of ʼn gefrustreerde bestuurder is, hierdie persoon lees mense se emosies, kalmeer hulle en laat elkeen gesien en gehoor voel.

3. So aanpasbaar soos klei

Verandering? ʼn Nuwe stelsel? Skielike verskuiwings? Niks fnuik dié persoon nie. Hulle leer vinnig en help ander aanpas sonder enige moeite.

4. Taktvol en vertroulik

Wat in vertroue gedeel word, bly daar. Hulle is professioneel, taktvol en kan sensitiewe inligting versigtig en met grasie hanteer.

5. Beplanner en prioritiseerder

Of daar nou 10 of 110 take op die lys is, hulle weet presies wat eerste moet gebeur. Hierdie persoon hou die produktiwiteitswiele aan die rol.

6. “Multitask”-meester

Honderde e-posse, oproepe, navrae én ʼn foutiewe drukker – alles op een dag? Dit is geen probleem nie vir hierdie kampioen nie, want hulle hanteer dit alles sommer gelyktydig.

7. Vasberade en volhardend

Hierdie persoon gooi nie maklik tou op nie. As iets nie werk nie, probeer hulle weer én weer totdat dit reg is. Hulle deursettingsvermoë is bewonderenswaardig.

8. Betroubaar en stiptelik

Jy kan áltyd op hulle staatmaak. Daardie verslag, ʼn bespreking of daardie belangrike herinnering sal betyds gedoen wees. Hulle is die rots in die kantoor.

9. Entoesiasties en positief

Hulle bring ʼn energie na die kantoor wat aansteeklik is. Al is dinge besig en uitdagend, sal hierdie persoon altyd iets positiefs raaksien en dit met ander deel.

10. ʼn Oog vir detail én die groter prentjie

Hulle sien die klein tikfout in ʼn dokument, en verstaan ook hoe die dokument in die groter prentjie pas. Dit is ʼn seldsame talent wat goud werd is!

Aan wie laat hierdie eienskappe jou dink?

Weet jy van iemand wat hierdie tien eienskappe daagliks uitbeeld? Nomineer hulle dan as Solidariteit se Kantoorkampioen vir 2025! Dit is tyd dat ons hierdie stille helde in die kollig plaas.

Klik hier om iemand vir hierdie toekenning te nomineer en gee erkenning aan ʼn kantoorkampioen!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel