loading
Mediaverklarings
6 uur gelede
toekomsberaad-wys-pad-vorentoe-vir-maatskaplike-sektor

Foto Krediet: Verskaf

Toekomsberaad wys pad vorentoe vir maatskaplike sektor

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand het hul Toekomsplan bekendgestel, wat aandui dat die maatskaplike sektor van krisisidentifikasie na toekomsbou moet oorskakel.

Die plan is tydens die Toekomsberaad 2025 bekend gemaak, wat ʼn strategiese byeenkoms was wat voortbou op die insigte van die Krisisberaad in 2024. Dit dui op ʼn duidelike verskuiwing: weg van bloot krisisse uitwys en kla, na gefokusde toekomsbou en selfstandige optrede in die maatskaplike sektor.

Onder die tema Van krisis na toekoms: Die maatskaplike sektor neem beheer het kundiges, gemeenskapsorganisasies en belanghebbendes byeengekom om ʼn nuwe rigting vir maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika te bepaal. Die Toekomsplan bevat ʼn strategie met konkrete aanbevelings en uitvoerbare stappe om die sektor te hervorm en te versterk.

Die plan spreek ook kernuitdagings aan soos wetgewende raamwerke, befondsingsmodelle, dienslewering en beroepseer. Dit bevat kort-, medium- en langtermynaksies wat daarop gemik is om groter selfstandigheid, doeltreffendheid en professionele integriteit in die sektor te bewerkstellig.

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, lê die kern van die plan in gemeenskapsgedrewe verantwoordelikheid. “Ons wag nie meer op die staat nie. Ons neem self die leiding – vir ons gemeenskappe, deur ons mense, volgens ons plan,” sê Smit.

Smit het benadruk dat volhoubare transformasie slegs moontlik is indien gemeenskappe self betrokke raak. “Die netwerk kan nie hierdie taak alleen verrig nie. Ons beroep ons op gemeenskappe om saam met ons ʼn kultuur van selfverantwoordelikheid en ʼn ‘ons sal self’-gesindheid te vestig.”

Die plan bevat verskeie sleutelinisiatiewe, waaronder:

•Die vestiging van ʼn nasionale regsadviesplatform vir maatskaplike werkers;

•Die ontwikkeling van selfstandige befondsingsmodelle deur maatskaplike entrepreneurskap;

•Die verbetering van dienslewering deur gekoördineerde opleiding, strukturele optimalisering en tegnologiese innovasie; en

•Die bevordering van beroepseer deur mentorskapprogramme en doelgerigte bewusmakingsveldtogte, veral gemik op jong beroepslui.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die beraad en bekendstelling van die Toekomsplan as ʼn keerpunt beskryf in die manier waarop die gemeenskap krisisse benader.

“Die bedoeling was ʼn beraad van hoop, ʼn beraad wat sê daar ís ʼn toekoms. Ons moet daarnatoe werk. Dit gaan nie vanself kom nie. Ons is nie aangewese op iemand anders nie. Ons kan nie wag vir die antwoorde nie, ons moet die antwoorde gaan haal,” sê Noëth.

“Verlede jaar het ons 67 krisisse geïdentifiseer. Hierdie jaar het ons begin om antwoorde te gee oor waarnatoe ons kan werk. Dit is nie kitsoplossings nie, maar planne wat hoop en rigting gee,” het Noëth bygevoeg.

Hy het verder benadruk dat die beraad nie ʼn kla-sessie was nie, maar ʼn strategiese, doelgerigte poging om oplossings te soek. “Ons leef in uitdagende tye, ja, maar dit is nie uniek nie. Elke era het sy storms. Ons moet ophou om probleme aan die volgende geslag oor te dra. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar daar is antwoorde. Ons het die vermoë, die geskiedenis en die roeping om dit te vind.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die rol van gemeenskappe en die belangrikheid van maatskaplike werkers beklemtoon.

“Maatskaplike werkers is die ‘binders’ wat gemeenskappe versterk en byeen hou. ʼn Gemeenskap wat bind, is kragtig – soos ʼn driedubbele tou. Dit breek nie maklik nie. Diensbaarheid, ondersteuning en lojaliteit is die drade wat gemeenskappe vleg en maatskaplike werkers is die binders.”

Hermann het daarop gewys dat die verval van staatsverantwoordelikheid ʼn gevaarlike werklikheid is, maar ook ʼn geleentheid bied vir gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem.

“Waar baie mense bekommerd is oor die toekoms van maatskaplike werk te midde van die onttrekking van staatsubsidies, breek daar nou ʼn nuwe era aan. Dit is ʼn era van gemeenskappe wat bind. Maatskaplike werkers is bedoel vir tye soos dié.”

Hy het benadruk dat oplossings nou vanuit gemeenskappe self moet kom. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is juis geskep as ʼn ruimte waar dié binders bande kan bou, beste praktyke kan deel en kennis en tegnieke aan jonger kollegas kan oordra.

Die Toekomsberaad 2025 het volgens die organiseerders nie net ʼn gebeurtenis verteenwoordig nie, maar die afskop van ʼn burgerlike beweging vir selfstandige maatskaplike ontwikkeling.

“Die krisis was ons wekroep. Nou bou ons saam, doelgerig en vol moed aan die toekoms,” sluit Smit af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel