loading
Mediaverklarings
10 maande gelede
toestand-van-die-plasings-van-dokters-nou-kritiek-solidariteit

Foto Krediet: Verskaf

Toestand van die plasings van dokters nou kritiek – Solidariteit

“Solidariteit se netwerke in die mediese sektor is bekommerd oor die kritieke punt wat die dokterplasings bereik het,” sê Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese sektor, in sy ope brief aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla.

Na wat berig word, is daar ongeveer 690 pas gegradueerde dokters wat tans werkloos is, en die druk op die reeds oorbelaaide gesondheidstelsel word erger.

“Die feit dat baie jong dokters oorsee moet gaan studeer en werksoek, is ʼn duidelike aanduiding van die gebrek aan werksgeleenthede en die finansiële beperkings binne die Suid-Afrikaanse mediese sektor,” sê Marx.

Volgens Marx het die plasing van dokters amper breekpunt bereik, en dit op die drumpel van die bekragtiging van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-wetsontwerp. Marx sowel as ander kenners wys daarop dat Suid-Afrika ʼn groot hoeveelheid waardevolle mediese talent verloor weens ʼn gebrek aan werksgeleenthede en finansiële ondersteuning van die staat. Marx beklemtoon die ernstige impak wat hierdie tekort aan dokters het, veral in vergelyking met ander lande wat van die staat se gesondheidsdienste afhanklik is. “Met ʼn tekort van 10,3 keer minder dokters vergeleke met sulke lande, het Suid-Afrika dus slegs 0,3 dokters per 1 000 pasiënte,” sê hy.

Die stryd word verder bemoeilik deur die regering se beplande implementering van die NGV. “Die NGV-wetsontwerp is reeds sterk teengestaan deur Solidariteit en ander organisasies in die mediese sektor, maar die regering weier egter om na die kenners en die publiek te luister,” sê Marx. Die ironie van hierdie situasie word duidelik gesien aan die staat se onvermoë om selfs die onmiddellike behoeftes van onlangse mediese gegradueerdes te hanteer, en dit terwyl hulle probeer om ʼn grootskaalse gesondheidsversekeringstelsel te implementeer.

Solidariteit is tans betrokke by ʼn reeks regsgedinge teen die NGV-wetsontwerp in ʼn poging om die belange van die mediese beroep en die pas gegradueerdes te beskerm.

“Ons is vasbeslote om tot in die hoogste howe vir die regte van dokters te veg in ʼn poging om veranderinge in die huidige beleidsklimaat teweeg te bring wat die mediese sektor kan ondersteun en die voortsetting van gehalte-gesondheidsorg in Suid-Afrika kan verseker,” sê Marx.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel