loading
avatar
Blogs
1 jaar gelede
trump-millimeters-weg-van-n-ander-wereld

Foto Krediet: Pixabay

Trump: Millimeters weg van ʼn ander wêreld

Deur Pieter Jordaan

ʼn Breukdeel van ʼn sekonde of enkele millimeters was dalk die verskil tussen lewe en dood vir Donald Trump Saterdag by ʼn Republikeinse politieke saamtrek.

Wat sou die wêreld se reaksie gewees het as Trump Saterdag net daar sou sterf? In die VSA sou daar dan sekerlik onbeheersde woede, selfs ʼn gewelddadige teenreaksie gevolg het. Burgeroorlog? Dink net!

Ons hier in Suid-Afrika het natuurlike geen tekort aan uitdagings van ons eie nie. Ons ken die klank van skote wat in die nag klap, en weerloses wat dikwels moet koes en keer om die houe van alle kante af te weer.

Ons almal leef in onvoorspelbare en onseker tye, en dinge gebeur die wêreld oor waaroor die gewone ou meestal min beheer het.

ʼn Mens kan jou ook net indink wat die impak van Trump se dood internasionaal en op markte wêreldwyd sou wees. Chaos!

Gelukkig is Trump net lig beseer tydens hierdie voorval waarvan die tonele so aangrypend op kamera vasgevang is. Dit is gevolglik ʼn ander soort storie wat daaroor vertel word. Dit is een wat ook sy eie rimpeluitwerking gaan hê.

Een daarvan is dat die Demokrate en die mankoliekige ou Joe Biden maar die onvermydelike moet aanvaar. Vir hulle is die koeël sekerlik deur die kerk en die pad oop vir Trump die martelaar om in November weer president word.

Ons kan wonder wat al hierdie dinge uiteindelik vir Suid-Afrika gaan beteken. Voor Saterdag se fratsgolf was ons handelsverhouding met die VSA nog half op die rotse.

Politieke verandering is tans ook plaaslik ʼn werklikheid vir Suid-Afrikaners. Dit is oorwegend positiewe verandering, so dink ons. Tog word dit ook met ʼn goeie skeut onsekerheid vermeng.

Wat staan ʼn gewone ou dan te doen in tye soos dié? Wat kan gemeenskappe doen om die aanslae van buite so goed moontlik die hoof te bied?

Wat die trajek van ʼn patroon in Pennsilvanië, of ʼn armdrukkery om kabinetsposte in ʼn regering van nasionale eenheid betref, is die antwoord “niks nie”.

Maar wat gemeenskappe kan doen, is om vasberade te doen wat hulle kán doen. In die gees van groeiende selfstandigheid het ons hier in Suid-Afrika, om eerlik te wees, al buitengewoon goed gepantser geraak teen onstuimigheid soos dié. Aan wanorde en onluste is ons al so gewoond dat ons kwalik iets anders verwag.

Dié wat floreer en bestand is teen politieke getye is oorwegend gemeenskappe vir wie begrippe soos selfdoen en saamstaan nie net hutsmerkwoorde is nie. In ʼn onvoorspelbare wêreld bied dit selfs meer as net ʼn mate van beskerming.

Dit bied vryheid eerder as wat dit vrees skep oor dít wat volgende, hetsy in die verte óf hier by ons, die rooiletter-hoofnuus gaan wees.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel