loading
Artikels
9 maande gelede
tswana-as-n-derde-taal-n-kritiese-vaardigheid-vir-regspraktisyns-in-suid-afrika

Foto Krediet: OkayDeer

Tswana as ʼn derde taal: ʼn Kritiese vaardigheid vir regspraktisyns in Suid-Afrika

Deur Reon Janse van Rensburg

Taal speel ʼn deurslaggewende rol in die kriminele regstelsel van enige land, en dit is veral só in ʼn land soos Suid-Afrika met veelvuldige amptelike tale. Regspraktisyns wat oor die vermoë beskik om in meer as een taal te kommunikeer, veral in ʼn taal soos Tswana, kan ʼn groot voordeel hê wanneer hulle kliënte in hofverrigtinge bystaan.

Volgens Professor Russell H. Kaschula van Rhodes Universiteit, en navorsers Zakeera Docrat en dr. Annelise de Vries, word taal op elke vlak van die regstelsel gebruik, en dit bepaal grootliks die uitkoms van die regsproses. Dit is daarom noodsaaklik dat regspraktisyns nie net bewus is van hierdie aspek nie, maar ook toegerus is met die vaardighede om hul kliënte se regte in hul moedertaal te beskerm.

Regte van die beskuldigde en die rol van taal

Suid-Afrikaanse wetgewing stipuleer dat ʼn individu die reg het om in ʼn taal wat hy of sy verstaan, aangespreek te word, veral tydens hofverrigtinge. Hierdie reg is geanker in artikel 35(3)(k) van die Grondwet, wat stipuleer dat ʼn beskuldigde die reg het op ʼn regverdige verhoor, insluitend die reg om hofverrigtinge te verstaan. Indien ʼn beskuldigde nie die hof se voertaal verstaan nie, moet ʼn bekwame tolk verskaf word.

Tog, ondanks hierdie bepalings, het die Hoofregter van Suid-Afrika verklaar dat Engels die enigste taal op die hof se rekord moet wees. Hoewel ander tale nog in die hof gebruik mag word, word die finale hofstukke en -besluite in Engels opgeteken. Dit skep ʼn unieke uitdaging vir die meerderheid van Suid-Afrikaners, aangesien slegs 8,1% van die bevolking Engels as moedertaal praat. Dit verhoog die risiko dat kliënte nie ten volle toegang tot geregtigheid het nie, bloot omdat hulle nie die hofprosedures of die dokumente kan verstaan nie.

Die belang van ʼn derde taal, soos Tswana vir regspraktisyns

In hierdie konteks kan die aanleer van ʼn taal soos Tswana ʼn wesenlike verskil maak vir regspraktisyns wat hul kliënte beter wil bedien. ʼn Studie deur Legal Aid South Africa het getoon dat ʼn groot deel van Suid-Afrikaners wat staatshulp benodig, nie Engels magtig is nie. Hierdie kliënte is dikwels reeds in ʼn kwesbare posisie, en ʼn gebrek aan begrip van die hof se voertaal benadeel hulle verder.

Die kursus Bemeester Tswana as ʼn derde taal, wat deur Solidariteit aangebied word, is ʼn waardevolle hulpmiddel om regspraktisyns te bemagtig om Tswana aan te leer en sodoende kliënte in hierdie taal te kan bedien. Die kursus bestaan uit 25 praktiese video’s wat op eie tyd deurgewerk kan word, wat dit vir besige regspraktisyns moontlik maak om ʼn nuwe vaardigheid aan te leer terwyl hulle steeds aan hul professionele verantwoordelikhede voldoen.

Solidariteit se Regsnetwerk bemagtig die volgende generasie en versterk die huidige generasie.

Die regsberoep in Suid-Afrika is onder enorme druk. Daar is geweldige frustrasies van beide die publiek en regslui wanneer dit by interaksie met howe en die regstelsel kom. Hierdie druk spoel oor na alle aspekte van die regsberoep – van gesoute advokate tot bloedjong kandidaatprokureurs ervaar onsekerheid en bekommernis oor die toekoms van die regsberoep.

Solidariteit se Regsnetwerk bied antwoorde op hierdie uitdagings. Dié netwerk het ten doel om vir Afrikaanse regslui soos studente, kandidaatprokureurs en regspraktisyns ʼn tuiste te skep waar lede mekaar kan ondersteun, die beroep kan beskerm en vir jong mense die geleentheid kan bied om hierdie beroep suksesvol te betree.

Klik hier as jy meer oor die Solidariteit Regsnetwerk wil weet. As jy gereed is om ʼn pad saam met Solidariteit se regsnetwerk te stap, klik hier en word binne ʼn minuut deel van dié netwerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel