loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
tweepotstelsel-is-n-gevaarlike-goue-pot-vir-die-regering-en-n-slaggat-vir-jou

Foto Krediet: Verskaf

Tweepotstelsel is ʼn gevaarlike goue pot vir die regering en ʼn slaggat vir jou

Deur Pieter Jordaan

Toe die tweepotstelsel die aftreefondsbedryf op 1 September tref, het mense – soos verwag – tougestaan om van hulle swaar verdiende aftreegeld te onttrek.

Alhoewel kenners oor die implikasies daarvan gewaarsku het, was daar in die aanloop tot 1 September tog begrip vir mense se besluit om wél daarvan gebruik te maak.

Daar is soms groot onmiddellike finansiële nood in talle huishoudings en dikwels is daar geen uitweg om die nood te verlig nie.

Al gaan dié mense vermoedelik ook later die prys betaal vir die uitkeer van spaarpotfondse, het só ʼn eenmalige reddingsboei – ʼn maksimum van R30 000 sonder belasting en administrasiekoste – hopelik verligting vir desperate mense gebring.

Máár, en dit is die gróót maar …

Die kommer bestaan dat die onttrekkings nie hier gaan stop nie.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, wys die vernaamste slaggate uit.

“Eerstens is daar die voor die hand liggende probleem: ʼn Bedrag van R20 000 wat jy dalk nou uitgekry het, kan oor 30 jaar met rente op omtrent R350 000 te staan kom.

“Dan is daar die vermoede dat die meeste pensioenfondslede nie net eenmalig hiervan gebruik gaan maak nie. Om jaarliks van jou aftreegeld te gaps, gaan later ʼn verwoestende uitwerking op jou finansiële welstand hê,” sê Croucamp.

Luidens berigte het die grootste aftreefondsadministrateur in Suid-Afrika, Alexforbes, in die eerste week sedert 1 September reeds ʼn totaal van R1,5 miljard se versoeke vir onttrekkings ontvang – veel meer as wat verwag is.

Dit wys dat waarskuwings oor ondeurdagte onttrekkings in baie gevalle op dowe ore geval het.

Volgens Alexforbes kom die beraamde belasting op dié onttrekkings op  sowat R270 miljoen neer. Dit is goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en selfs vir die ekonomie, en nóg versoeke word in die komende weke en maande verwag. Die nasionale tesourie verwag dat daar gesamentlik sowat R5 miljard se belasting hieruit sal spruit – ten koste van individuele werkers.

Croucamp sê die volgende struikelblok lê rééds op die horison. Rolspelers soos die vakbond Cosatu (Congress of South African Trade Unions) oefen reeds druk uit op die regering om werkers met ʼn laer inkomste van belasting vry te stel in die geval van hierdie onttrekkings.

“Daar is reeds voor 1 September ʼn beroep op die regering gedoen om die maksimum bedrae te verhoog of om meer geld beskikbaar te stel ter wille van studie- of huislenings. Ons verwag dat hierdie druk op die regering gaan toeneem om nóg verslappings toe te staan.

“Die tweepotstelsel op sigself was na my mening ʼn roekelose poging om Cosatu gelukkig te hou en om terselfdertyd belasting te hef deur middel van wetgewing wat nie gewone Suid-Afrikaners se voorsiening vir aftrede verbeter nie.

“Ons is bekommerd dat al hoe meer Suid-Afrikaners sodoende deur wetgewing toegelaat gaan word, of versoek gaan word, om hulle eie aftreefondse te plunder, wat sal veroorsaak dat hulle eendag beduidend armer sal aftree,” sê Croucamp.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel