Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Jou volgende werk begin lank voordat jy jou huidige een verloor
Deur Reon Janse van Rensburg
Die veiligste werknemer is nie altyd die een met die veiligste werk nie.
Dit klink teenstrydig, maar dit is presies hoe die moderne arbeidsmark werk. Vir dekades was werksekerheid eenvoudig: Kry ʼn permanente pos, werk hard en bly so lank as moontlik by dieselfde werkgewer. Vandag is dit nie meer noodwendig jou posisie wat jou toekoms beskerm nie, maar eerder jou vermoë om aan te pas wanneer die wêreld om jou verander.
Maatskappye herstruktureer. Tegnologie verander die manier waarop mense werk. Nuwe beroepe ontstaan, terwyl ander geleidelik verdwyn. In só ʼn wêreld lê loopbaansekerheid al hoe minder in die naam van jou werkgewer en al hoe meer in die vaardighede wat jy saamneem.
Die Wêreldbank waarsku dat sowat 1,1 miljard werknemers wêreldwyd nuwe vaardighede in die volgende dekade sal moet aanleer namate tegnologie, digitalisering en ander wêreldwye veranderinge die arbeidsmark hervorm. Die boodskap is eenvoudig: leer kan nie ophou sodra jy ʼn kwalifikasie verwerf nie. Vir die moderne werknemer het voortgesette leer ʼn noodsaaklike deel van werksekerheid geword.
Die Wêreld- Ekonomiese Forum bevestig dieselfde tendens. Werkgewers kyk toenemend na wat mense kan doen, eerder as net na hul vorige postitels of formele kwalifikasies. Dit beteken dat jy lank voordat jy ooit weer werk hoef te soek, reeds vir jou volgende loopbaangeleentheid moet voorberei.
Dit beteken nie ervaring het geen waarde meer nie. Inteendeel, ervaring bly belangrik. Ervaring sonder voortdurende ontwikkeling raak egter mettertyd verouderd. Werknemers wat hul kennis voortdurend uitbrei, nuwe tegnologieë aanleer en bereid is om hul vaardighede op te skerp, plaas hulself in ʼn sterker posisie – of hulle hul huidige werk behou, bevorder word of eendag ʼn nuwe geleentheid moet aangryp. Voortgesette leer gaan dus nie net daaroor om vir ʼn moontlike werkverlies voor te berei nie. Dit maak jou ook meer waardevol in die werk wat jy reeds doen.
Solidariteit beklemtoon juis dat vaardighede een van die belangrikste oplossings vir armoede en werkloosheid is. Hoe meer waarde jy vir ʼn werkgewer kan skep, hoe groter word jou geleenthede in ʼn arbeidsmark wat voortdurend verander.
Voortgesette leer is daarom nie meer ʼn luukse nie, maar een van die belangrikste maniere waarop werknemers hul loopbane teen verandering kan beskerm.
Om werknemers hiermee te help, bied Solidariteit-aanlyn nagenoeg 150 kursusse vir voortgesette leer. Hierdie kursusse is gratis beskikbaar vir Solidariteit-lede, terwyl nielede ook teen ʼn fooi daarvoor kan inskryf en dit voltooi.
Werksekerheid begin nie wanneer jy skielik ʼn nuwe werk moet soek nie. Dit begin vandag – met die volgende vaardigheid wat jy aanleer. Deur voortdurend nuwe vaardighede aan te leer, bou werknemers nie net aan hul CV’s nie; hulle bou ook aan hul loopbaansekerheid.
Jou volgende werk begin lank voordat jy jou huidige een verloor en selfs voordat jy daaraan begin dink om ʼn nuwe of beter geleentheid aan te gryp.
Registreer dus vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en bly op die voorpunt van jou loopbaan!