loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
vaardighede-as-die-antwoord-op-armoede

Foto Krediet: OkayDeer

Vaardighede as die antwoord op armoede

Deur Marné Pienaar

“ʼn Volk red homself.”

Dít is die woorde van die bekende teoloog en Bybelvertaler J.D. Kestell wat die leuse geword het vir ʼn beweging wat hy in 1939 begin het om die verarmde Afrikaners op te hef.

Die Afrikaner het ná die Anglo-Boereoorlog byna vergaan van armoede en het tot diep in die twintigste eeu in nog onder armoede gebuk gegaan. Dié destydse armoedekrisis onder arm wit mense het as die Armblankevraagstuk bekendgestaan.

“ʼn Volk red homself” het beteken dat skole, universiteite en fabrieke gebou is want vaardigheidsontwikkeling is die antwoord op armoede. Vaardighede is deur werk aangeleer. Dít is hierdie gedagte wat die latere #OnsSalSelf-idee van Solidariteit geïnspireer het – ʼn idee wat ons vandag uitleef en ondersteun, want ʼn gemeenskap moet homself red.

In die 30 jaar wat die ANC aan bewind was, het hulle byna alle staatsinstellings laat verval. Dit het ook die instellings wat die Afrikaners destyds opgerig het, ingesluit. Afrikaans het by ons universiteite in die slag gebly en ons is vervreem van die instellings wat met ons voorouers se bloed en sweet gekoop is.

Daarom bou Solidariteit vandag weer aan instellings soos Sol-Tech en Akademia, want gehalteopleiding in Afrikaans baan die weg vir die toekoms.

ʼn Mens hou egter nie ná jou tersiêre studie of opleiding op om te leer nie. Die wêreld ontwikkel vandag veel vinniger as waarmee ons kan tred hou. Daar is soveel nuwe vaardighede wat jy moet bemeester om in die werkplek by te bly, maar jy is nie noodwendig in daardie vaardighede opgelei nie.

Solidariteit glo elkeen wat wíl werk, moet kán werk, en moet goed kan werk. Daarom wil Solidariteit elke werksoeker toerus met die nodige vaardighede om in die werkplek te kan floreer.

Hoe kan jy toegerus word om in die digitale wêreld van werk te floreer? Gaan kunsmatige intelligensie (KI) my werk oorneem? (Lees hier waarom die antwoord “nee” is.) Solidariteit se aanbod vir voortgesette leer is die antwoord om toegerus te bly vir werk, selfs in die digitale era, want deur vaardigheidsontwikkeling kan ʼn volk homself red.

Jou Solidariteit-lidmaatskap gee jou gratis toegang tot nagenoeg 150 aanlyn leerkursusse. Bemagtig jouself vir die toekoms van werk! Skep jou profiel op Solidariteit en koppel jou lidmaatskap vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel