loading
Artikels
1 jaar gelede
uitbranding-onder-it-praktisyns-dit-is-wat-jy-moet-weet

Foto Krediet: OkayDeer

Uitbranding onder IT-praktisyns – dit is wat jy moet weet

Deur Maryna Eksteen

Uitbranding in die werkplek is nie ʼn nuwe konsep nie, maar dit het sedert Covid-19 aansienlik toegeneem, veral in die IT-bedryf. Volgens Adeva kan uitbranding in sagteware-ingenieurswese as ʼn epidemie beskou word wat nadelig is vir ʼn werknemer se produktiwiteit én welstand.

Wat is uitbranding?

Uitbranding kan beskryf word as ʼn toestand van algehele geestelike, fisieke en emosionele uitputting. As jy uitbranding ervaar, sal jy dalk agterkom dit is moeilik om betrokke te raak by dié aktiwiteite wat jy normaalweg sinvol vind. Jy gee dalk nie meer om oor die dinge wat vir jou belangrik is nie, of jy ervaar ʼn toenemende gevoel van hopeloosheid.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is uitbranding so ernstig dat dit volgens die Internasionale Klassifikasie van Siektes (ICD-11) as ʼn diagnose beskou word. Die WGO het uitbranding dus as ʼn amptelike beroepsiektetoestand erken wat mediese sorg verg.

Wat veroorsaak uitbranding in die IT-bedryf?

Die anonieme werkplekhersieningsdiens Blind het gaan ondersoek instel en 10 000 tegnologiewerkers by 30 van die grootste tegnologiemaatskappye gevra wat hulle dink die oorsaak van uitbranding kan wees.  

Dit is wat die opname aan die lig gebring het:

  • 22,9% van tegnologiewerkers sê dat swak leierskap en onduidelike rigting die #1-faktor vir uitbranding is.
  • 19,4% van tegnologiewerkers sê dat werkoorlading tot uitbranding bydra.
  • 17,5% van tegnologiewerkers glo dat ʼn toksiese werkplek ʼn oorsaak vir uitbranding is.
  • 15,4% van tegnologiewerkers het min beheer oor hul loopbaan en loopbaangroei as redes vir uitbranding gelys.

Aangesien ʼn hoë uitbrandingskoers onder sommige van die topmaatskappye ter wêreld voorkom, kan die tegnologiebedryf ʼn ernstige probleem in die gesig staar.

Tekens van uitbranding

  • Verlaagde prestasie: Uitgebrande werknemers sukkel om te konsentreer, kreatiwiteit ontbreek en hulle kan nie aan die verlangde vereistes voldoen nie.
  • Verhoogde afwesigheid: Uitbranding kan dikwels herken word aan ongelukkige werknemers wat geneig is om baie dae se siekteverlof te neem.
  • Swak interne verhoudings: As jy agterkom dat negatiewe konflik onder jou werknemers tussen kollegas voorkom, kan dit nog ʼn teken van uitbranding wees.
  • Lae moraal: Oorwerkte werknemers toon dikwels meer negatiewe, ongeduldige en siniese gedrag.

Die Solidariteit IT-netwerk bied netwerkgeleenthede wat jou kan bemagtig en waar jy jou professionele netwerke kan uitbrei en skouers skuur met mense wat jou uitdagings verstaan. Dit is ook ‘n plek waar jy kan ontlaai. Jy kan ook geleenthede skep vir die volgende generasie om toegang tot jou bedryf te kry deur jou kennis en vaardighede met hulle te deel, soos om as mentor vir ʼn jong mens op te tree. Só kan jong mense vry, veilig en voorspoedig in hul beroep wees.

Klik hier en #RaakTuis by Solidariteit. Jy hoef nie uitbranding alleen aan te pak nie. Solidariteit is hier vir jou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel