Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
23 uur gelede
unisa-personeel-by-breekpunt-ingryping-dringend-nodig-solidariteit

Foto Krediet: Verskaf

Unisa-personeel by breekpunt; ingryping dringend nodig – Solidariteit

Solidariteit doen ʼn beroep op die regering om dringend in te gryp by werkomstandighede wat personeel aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) tot ʼn breekpunt dryf.

ʼn Opname wat Solidariteit onder sy lede by Unisa van stapel gestuur het om eerstehandse inligting oor die ernstige bewerings te bekom, bevestig in die meeste gevalle die erns van die situasie.

Die terugvoer dui op onaanvaarbare hoë werklading, asook hoë vlakke van stres en uitbranding, en beklemtoon die uitwerking daarvan op werknemers se fisieke en sielkundige welstand. Hierdie bevindinge is gegrond op eerstehandse terugvoer van werknemers en nie bloot op mediaberigte nie – berigte wat Unisa in ʼn verklaring as “gekoördineerde waninligting” beskryf het.

Solidariteit sal binnekort ʼn volledige verslag oor die bevindinge bekend maak.

Van die bewerings wat werknemers gemaak het, is dat personeeltekorte en ander werkomstandighede hul gesondheid en veiligheid in die werkplek benadeel en dat hulle onder ʼn buitensporige werklas gebuk gaan wat tot uitbranding lei.

As deel van sy ingryping sal Solidariteit ʼn skrywe aan die minister van hoër onderwys en opleiding, asook die Parlement se Portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, rig om hulle oor die werkomstandighede by Unisa en die gebrek aan optrede in te lig.

Solidariteit sal terselfdertyd ʼn ondersoek eis sodat daar onmiddellik, in die belang van beide werknemers en studente, ingegryp kan word.

Volgens Anique Niemand, netwerkorganiseerder van die professionele bedryf by Solidariteit, is hulle veral bekommerd oor die welstand van lede en ander werknemers wat reeds vir ʼn geruime tyd onder hierdie omstandighede gebuk gaan.

In baie gevalle het die situasie werknemers tot by ʼn breekpunt gedryf en ʼn ernstige negatiewe uitwerking op hul fisieke en emosionele welstand gehad.

“Ongelukkig bevestig die terugvoer wat ons by lede en werknemers oor die werktoestande by Unisa kry ons vermoede en ons vrese.

“Werknemers word deur onaanvaarbare werkdruk tesame met gebrekkige ondersteuning in die werkplek vertrap. Klagtes daaroor val boonop op dowe ore terwyl werknemers toenemend magteloos voel en nie gehoor word nie,” sê Niemand.

Volgens De Wet Blaauw, Solidariteit se afdelingshoof vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sal Solidariteit toesien dat Unisa sy wetlike verpligtinge ingevolge toepaslike wetgewing nakom.

“Die vertrekpunt is artikel 8(1) van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, wat bepaal dat elke werkgewer moet ʼn werkomgewing voorsien en in stand hou wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van sy werknemers is.

“Hierdie gesondheid sluit sielkundige en emosionele welstand in, asook geestesgesondheid wat onder andere oormatige werklading, lang werkure en viktimisering vervat,” sê Blaauw.

Volgens Blaauw maak hierdie wetlike voorskrifte dit duidelik dat werkgewers nie werkomstandighede wat sielkundige of emosionele skade aan werknemers veroorsaak, kan ignoreer nie. Hulle het ʼn wetlike verpligting om hierdie risiko’s op dieselfde wyse as fisieke werkgevare te bestuur.

Solidariteit meen dat al die bewerings met die nodige erns ondersoek moet word. Dit is in die belang van beide werknemers en die instelling dat die feite so spoedig moontlik deur die bevoegde owerhede vasgestel word.

Vir Solidariteit bly die beskerming van werknemers se gesondheid, veiligheid en waardigheid in die werkplek die hoogste prioriteit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel