
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Vakke wat kinders werklik in hul toekoms kan help
Nie elke kind gaan universiteit toe nie, maar vir elke kind se suksesvolle toekoms is dit steeds belangrik om vakke slim te kies. Vakke soos Wiskunde, RTT, IGO, Besigheidstudies en Landbouwetenskap kan steeds jou kind se toekoms vorm. Lees hier meer oor vakke wat jou kind werklik in hul toekoms kan help en hoe Solidariteit jou en jou kind met vakkeuses kan bystaan.
Deur Kyla-Ann du Toit
Nie elke kind gaan ná skool universiteit toe nie. Dit beteken egter nie dat hul skoolvakke nie steeds ʼn impak op hul toekoms het nie. Trouens, sommige vakke kan jou kind jare later steeds help – of hulle nou werk soek, hul eie onderneming begin of sommer net praktiese vaardighede in die “grootmenswêreld” benodig.
As ouer wil jy seker maak dat jou kind sinvolle keuses maak, en dit begin by hul vakke. Hier is ’n paar van die belangrikste vakke wat leerders kan oorweeg, selfs al beplan hulle nie om ná matriek verder te studeer nie.
Wiskunde: Die logiese bousteen
Selfs al hou jou kind nie van somme nie, bly Wiskunde een van die waardevolste vakke in die wêreld daar buite. Dit help leerders om logies te dink, probleme op te los en met geld te werk – vaardighede wat in enige beroep goud werd is. Wiskunde help jou met probleemoplossing, analitiese en logiese denke, asook finansiële en praktiese geletterdheid. Al gaan jou kind nie ʼn wiskundige beroep volg nie, is dit steeds ʼn waardevolle vak om op skool te kies.
Leer meer oor Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid.
Rekenaartoepassingstegnologie (RTT): Welkom in die digitale wêreld
Ons leef in ʼn wêreld waar byna elke werk rekenaarvaardigehde vereis. Met RTT leer leerders praktiese vaardighede soos Excel, PowerPoint en databasisbestuur – dinge wat hulle vinnig bo ander in die werkplek laat uitstaan. Of jy nou vir iemand werk of jou eie ding doen, dit is die tipe kennis wat jy in amper enige administratiewe of tegniese werkplek sal gebruik.
Kyk hier vir meer inligting.
Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO): Teken jou pad vorentoe
Vir kinders wat prakties en visueel ingestel is, is IGO ʼn wenkeuse. In hierdie vak leer jy hoe om akkuraat te teken, planne te interpreteer en ontwerp te verstaan – vaardighede wat goed pas by beroepe soos argitektuur, meganika, bouwerk en selfs digitale ontwerp. Jy hoef nie te studeer om hierdie vaardighede in die praktyk te gebruik nie.
Leer meer oor IGO, Ontwerp of Elektronika.
Besigheidstudies: ʼn Toekomstige entrepreneur
As jou kind eendag hul eie onderneming wil begin of net wil verstaan hoe die wêreld van werk funksioneer, is Besigheidstudies ʼn uitstekende basis daarvoor. Hulle leer hoe ondernemings werk, hoe wins gemaak word, hoe om te bemark en selfs hoe mensehulpbronne bestuur word. Dit is praktiese kennis wat help om die huidige sakewêreld met selfvertroue te betree.
Kyk hier vir meer inligting oor Besigheidstudies.
Landbouwetenskap: Meer as net boerdery
Landbouwetenskap leer kinders van volhoubare voedselproduksie, grondgebruik en selfs basiese meganiese vaardighede. Dit is ʼn praktiese vak wat goed pas by ʼn loopbaan in landbou, maar ook by enige kind wat daarvan hou om met hul hande te werk en ʼn produksieproses van begin tot einde te verstaan. Dit is boonop ʼn ideale vak vir entrepreneurs wat ʼn boerdery of landbou-onderneming oorweeg.
Kyk hier vir meer inligting.
Solidariteit se #Vakkeuse-webinaar vir ouers en kinders
Is jou kind onseker oor watter beroep om eendag na te streef? Solidariteit nooi jou en jou kind graag uit om op 22 Mei 2025 by ons #Vakkeuse-webinaar in te skakel, waar ʼn kenner waardevolle raad gee oor die keuses wat vandag gemaak moet word en hoe dit môre se toekoms kan vorm. Die webinaar is prakties, insiggewend en ontwerp om jou kind te help om hul vakke met selfvertroue te kies.
Skep vandag nog jou kind se gratis profiel op Solidariteit en verseker ʼn suksesvolle toekoms!