
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Van Solidariteit-verteenwoordiger tot visepresident
Deur Henk Kruger
Ek het my loopbaan in 1997 by Sishen-myn as proseskontroleerder begin. Die werksomstandighede was uitdagend, en dit het gou duidelik geword dat iets moes verander. Ek het toe my vakbond, Solidariteit, genader vir hulp – en die wyse waarop hulle die situasie hanteer het, het my diep beïndruk. Daar het iets in my verander – ʼn vonk het in my hart ontstaan. Ek het geweet: ek wil meer doen, ek wil deel van die oplossing wees. Kort daarna het ek ʼn Solidariteit-verteenwoordiger geword – die begin van ʼn pad wat my lewe sou verander.
My passie was (en is steeds) om mense by te staan wat nie altyd weet hoe om vir hulself op te staan nie – mense wat ʼn stem nodig het in tye van nood. My betrokkenheid het egter nie daar geëindig nie. Dit het uitgebrei na gemeenskapsprojekte, strukturele deelname en die bou van ʼn sterker, meer verantwoordelike werkskultuur.
Een voorval wat ek nooit sal vergeet nie, was toe ek genader is deur mensehulpbronne oor ʼn lid wat al langer as ʼn jaar van die werk afwesig was. Hulle wou hom ontslaan. Ek het egter daarin geslaag om hom op te spoor en sy saak te verdedig. Danksy behoorlike prosedures en volgehoue ondersteuning, kon hy sy werk behou. Dit het my weereens laat besef: hier is waar ek hoort – aan die kant van mense wat nie altyd weet wat hul regte is nie.
Met verloop van tyd is ek verkies as voorsitter by Sishen-myn vir twee termyne, en het terselfdertyd gedien as ondervoorsitter van die bedryfsraad. My betrokkenheid het verder gegroei toe ek as hoofraadslid van die Solidariteit Beweging verkies is, en later as ondervoorsitter van die Nasionale Raad.
Onlangs is ek, met groot nederigheid en dankbaarheid, verkies as visepresident van die Solidariteit Beweging – ʼn rol wat ek nie ligtelik opneem nie. Hierdie reis is nie sonder uitdagings nie, maar dit is deurgaans gevul met betekenis en roeping.
Ek is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat ek deur die jare van medeverteenwoordigers ontvang het, en die voorbeelde en riglyne wat my gehelp het om op die pad te groei.
My werk is my roeping. Ek glo vas: ware leierskap lê in diens aan ander – en ek sal aanhou om daardie pad te stap.