Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Vat Ramaphosa se NGV-beloftes met ’n knippie sout en ’n paar pille
Pres. Cyril Ramaphosa se stelling dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ’n einde sal maak aan die “apartheid wat in die gesondheidsorgsektor” heers, is ’n doelbewuste miskenning van sekere kernfeite daaroor, sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Solidariteit is skepties oor die jongste beloftes van pres. Ramaphosa met betrekking tot die NGV, want die werklikheid van die gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika verskil hemelsbreed van die prentjie wat Ramaphosa daaroor skets.
Volgens Du Buisson is dit belangrik om erkenning te gee aan die oorsprong van die bestaande infrastruktuur van groot hospitale in Suid-Afrika, wat hoofsaaklik voor die die ANC se bewind opgerig is. “Sedert die ANC aan bewind gekom het, is daar bykans geen aandag gegee aan die instandhouding van staatshospitale nie. Slegs privaat hospitale is deur die privaat sektor gebou,” sê Du Buisson.
Die sukses van privaat hospitale bewys dat die privaat sektor doeltreffend en onafhanklik kan funksioneer. Verder is dit ʼn duidelike aanduiding dat die NGV nie kan werk nie en dat werkende gesondheidsdienste van privaat bestuur afhanklik is. “Die ANC-regering is die oorsaak dat die stelsel lyk soos wat dit lyk. Hierdie regering het die openbare gesondheidsektor vervalle laat raak. Hulle het beleid ingestel wat werkloosheid aanblaas. Hulle het beleid ingestel wat mediese skemas verhoed om bekostigbare opsies te bied. Om te verwag dat hulle die NGV op ’n goeie wyse sal kan uitrol, is waansinnig.”
Verder sê Du Buisson dat die beskuldiging van apartheid in die huidige gesondheidsorgstelsel nie meer van toepassing is nie, aangesien die meerderheid van mediesefondslidmaatskap in Suid-Afrika deur swart mense opgeneem word. Hierdie lidmaatskap weerspieël eerder die demografie van die arbeidsmark as ʼn gevolg van vrye keuse en nie as gevolg van enige sameswering soos wat Ramaphosa impliseer nie.
“Dit is duidelik dat die ANC-regering die primêre oorsaak van die huidige toestand van die gesondheidsorgstelsel is,” sê Du Buisson.
Volgens Du Buisson het die ANC nie net die openbare sektor laat verval nie, maar ook beleide geïmplementeer wat werkloosheid in staatsdiens bevorder en mediese skemas verhoed om bekostigbare opsies aan te bied. “Om dus te verwag dat hierdie regering die NGV suksesvol sal kan uitrol, is niks minder as onrealisties nie,” sê Du Buisson.
Selfs indien die ANC ‘n werkbare gesondheidsorgstelsel onder die NGV kan vestig, is dit onwaarskynlik dat dit suksesvol sal wees, aangesien dokters nie vir die staat wil werk nie.
Du Buisson noem ook dat Suid-Afrika nie die nodige finansiële hulpbronne het om so ʼn stelsel te ondersteun nie, wat tot ‘n verdere vermindering van kwaliteitgesondheidsdienste sal lei terwyl die koste deur die reeds kwesbaarstes in die land gedra word.