
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Verbruikers Rek Hul Rande: Finansiële Stres
Deur Nico Strydom
Suid-Afrikaanse verbruikers is onder erge finansiële druk weens die stygende rentekoers en ander lewenskoste en neem bewustelik stappe om hul rande te probeer rek.
Die resultate van Old Mutual se jongste jaarlikse Spaar-en-beleggingsmonitor wys daarop dat, alhoewel werkende Suid-Afrikaners voortgaan om veerkragtigheid te toon te midde van finansiële uitdagings, 45% aansienlik finansieel gestres is, sewe uit 10 probeer om met hul inkomste, wat sedert 2020 nie verbeter het nie, te oorleef terwyl hul vertroue in die ekonomie kwyn.
Daar is onder meer bevind verbruikers sukkel om spaarbuffers te bou terwyl hul skuldvlakke toeneem en hul skuld aansienlik duurder is om te delg. Tot 33% van respondente met huisverbande sukkel om hul maandelikse terugbetalings na te kom of raak agter met betalings. Een uit elke twee respondente het aangedui hulle is bekommerd oor die verlies van hul werk.
Verbruikers begin ook al hoe meer van hul spaargeld gebruik om maandeliks uit te kom, terwyl talle by familie en vriende geld leen. Al hoe meer verbruikers gaan persoonlike lenings aan en bekom kredietkaarte om finansieel te oorleef. Volgens die monitor het die sogenaamde toebroodjiegenerasie (mense wat nie net kinders onderhou nie, maar ook ouers en ander ouer afhanklikes) van 39% in 2022 tot 43% vanjaar toegeneem.
Ten einde in dié finansieel moeilike tye meer veerkragtig te wees, het verbruikers egter ook maniere gevind om hul begrotings te rek. Verbruikers gee onder meer luukshede prys om te spaar. Al hoe meer verbruikers maak van belonings- en lojaliteitsprogramme gebruik om hul rande te rek. Talle verbruikers het ook al na goedkoper TV-stromingsdienste en goedkoper supermarkte geskuif. Tot ʼn derde het besnoei op hul huiswerker en na goedkoper selfoon- en dataprodukte geskuif.
Verbruikers is ook meer geneig om groot aankope of uitgawes op ys te plaas, kanselleer hul lidmaatskap van gimnasiums en kies om toestelle te hou en te herstel in stede daarvan om dit te vervang.
Terwyl baie Suid-Afrikaners stappe doen om spaargeld te konsolideer en skuld te verminder, soek ander vinniger oplossings om inkomste te genereer deur groot risiko’s te neem. Tot 50% van respondente het aangedui dat hulle verskeie bronne van inkomste het.
“Ondanks die voortdurende finansiële druk probeer mense spaar maar sukkel hulle om korttermyn- en langtermynprioriteite te bestuur. Die top drie spaardoelwitte is vir aftrede, die bou van ʼn noodfonds en die delging van skuld,” is daar bevind.
Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) bied finansiële advies aan lede en nielede. Lees meer hier oor hoe jy jou geld beter kan bestuur.
#RaakTuis by Solidariteit, klik hier.