Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Vereenvoudig jou leefstyl in 12 stappe!
Deur Maryna Eksteen
Om as kantoorpraktisyn met ʼn beperkte salaris kop bo water te hou, kan uitdagend wees, maar deur jou leefstyl te vereenvoudig, is dit moontlik om finansieel beter te leef. Met ʼn paar slim aanpassings kan jy jou geldsake onder beheer hou en terselfdertyd meer balans in jou lewe skep.
Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk het by Wilco Naumann gaan inloer om uit te vind hoe jy jou leefstyl kan vereenvoudig. Wilco is ʼn gepubliseerde skrywer, openbare spreker en besigheidstrateeg wat in Johannesburg grootgeword het en reeds op 22-jarige ouderdom sy eerste stap in eiendomsbeleggings en entrepreneurskap gegee het deur sy eerste maatskappy te stig. Teen sy middel twintigs het hy as raadslid in ʼn munisipaliteit gedien waar hy verantwoordelik was vir groot begrotings in grondgebruikbestuur, ruimtelike beplanning en finansies. In sy laat twintigs het hy sy besigheidsportefeulje verder uitgebrei deur verskeie takke en eiendomsbeleggings te vestig.
Teen die ouderdom van 30 het Wilco besef dat sukses meer is as net materiële rykdom, en hy het sy passie vir skryf begin uitleef. Hy het die finansiële seminaar genaamd “God & Geld” ontwikkel en sy eerste boek, God & Geld, gepubliseer. Die boek bied insig in finansiële rentmeesterskap en het baie mense gehelp wat finansiële leiding gesoek het te midde van Suid-Afrika se ekonomiese onsekerhede, veral tydens die Covid-inperking.
Wilco is sedertdien betrokke by verskeie ondernemings, insluitend ʼn uitgewersmaatskappy, besigheidskonsultasies, ʼn rekeningkundige firma en ʼn eiendomsbeleggingskorporasie.
Hier volg 12 van Wilco se wenke om jou te help om finansieel vry te leef:
• Leer om nee te sê. Deur “nee” te begin sê vir aankope, uitverkopings, vakansies en mense gaan jou baie geld spaar en jou help om uit skuld uit te kom.
• Staak kredietaankope. Hou eenvoudig op geld leen. Dit maak nie saak wat opduik nie, jy moet ophou leen. Dit is van kardinale belang om nie meer op rekening te koop nie – slegs kontant. Wees versigtig vir skuld, want dit is talle se ondergang. As jy nie kontant vir iets kan betaal nie, moet dit nie koop nie.
• Pas selfbeheersing toe – tesame met dissipline. Aankope en besteding moet beheer word. Dit is moontlik, want God het ons ʼn gees van selfbeheersing gegee. Die Griekse filosoof Aristoteles het geskryf: “Ek ag een wat sy eie begeertes oorwin, dapperder as een wat sy vyande oorwin, want die moeilikste oorwinning is oor jouself.”
• Bestee altyd minder as wat jy verdien. Moet ook nie koop wat jy nié nodig het nie. Dit klink logies en eenvoudig, maar die oorgrote meerderheid van die samelewing koop dinge wat hulle nie nodig het nie. Dus, prioritiseer jou aankope. Leef eenvoudig en goedkoop. Spandeer geld op ʼn wyse wat die Here behaag.
• Wees geduldig. Pas geduld toe indien jy nie nou iets anders of nuwer of beters kan kry of bekostig nie. Wees geduldig. As jy iets “moet” hê, koop dit deur jou bates – skakel die geld wat jy het, om in ʼn bate en gebruik die opbrengs daarvan om die item te koop. Besef dit gaan nie maklik wees of oornag gebeur nie, maar as jy volhard sal jy dit regkry.
• Wees tevrede met wat jy het. As jy nie tevrede is met wat jy het nie, gaan jy sukkel om uit skuld uit te kom. Jou diepste behoeftes, ware geluk en volkome tevredenheid word nie uit dinge verkry nie, maar slegs uit ʼn verhouding met God en deur ʼn gesonde en gelukkige verhoudingslewe – met jouself en ander mense.
• Wees realisties. Jou inkomste alleen gaan jou nie uit skuld uit kry nie. Jou ingesteldheid, houding en geduldvlakke teenoor jou besittings, leefstylkeuses, besteding, spaar, filosofie, denke, behoeftes en begeertes is wat jou uit skuld uit gaan kry. Ontwikkel die regte verhouding met geld en besittings.
• Waak teen reklame. Die media skep behoeftes wat geen geld kan bevredig nie. Pasop vir advertensies, want dit skep ʼn subtiele begeerte na onnodige besittings en ʼn vae ontevredenheid in jou onderbewussyn met wat jy tans het.
• Maak ʼn radikale verandering in jou lewenstyl. Dit is in ons aard om dinge te wil hê, en hoe gouer, hoe beter, maar jy sal moet leer om daarteen te veg ten einde uit die skuld te kom. Die geveg teen die menslike natuur gaan jou uit slawerny bevry.
• Hou op om jouself met ander te vergelyk. As jy jouself met iemand wil vergelyk, vergelyk jouself met mense wat minder het as jy. Dit sal jou ʼn dankbare en tevrede mens maak. Al vergelyking wat jy moet tref, is jou waardestelsel teenoor God se Woord. Wees dankbaar vir al die seëninge wat jy reeds het en fokus eerder daarop.
• Leef vanuit ʼn ewigheidsperspektief. Ons is slegs tydelike bewoners, “vreemdelinge en bywoners op aarde”. Ons lewe op aarde is nie ons ewige woning nie; dit is slegs ons pelgrimstog, “want ons burgerskap is in die hemele”. Jesus het vir ons gesê om hemelse skatte bymekaar te maak, “waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie”. Behou – en bekom – slegs dié besittings wat jou in staat sal stel om God se doel vir jou lewe te verwesenlik.
• Herken die vyand vir wie en wat hy is. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” As slawerny in skuld – wat jou weerhou van God se spesifieke en unieke plan vir jou lewe – jou gaan vernietig, dan sal die vyand alles in sy mag probeer om jou in slawerny te hou.
Jy sal geweldig baie daarby baat deur jou lewenstandaard te vereenvoudig. Klik hier om die volledige lys van Wilco se wenke te lees. Belê in jouself en leer om eenvoudiger maar gelukkiger te lewe.
Indien jy nog nie by Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk betrokke is nie, klik hier. Word deel van ʼn gemeenskap wat jou uitdagings verstaan! Indien jy reeds ʼn gratis profiel op Solidariteit geskep het, klik hier om jou lidmaatskap te koppel. Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.