loading
Artikels
3 weke gelede
vergemaklik-jou-werk-met-die-sagteware-oplossings

Foto Krediet: OkayDeer

Vergemaklik jou werk met dié sagteware-oplossings

Deur Nico Strydom

Kantoorpraktisyns moet gewoonlik verskeie hoede dra want hulle is die spil waarom alles in die kantoor draai, maar danksy tegnologie en innovering is dit so ietwat makliker om al die rolle wat van jou verwag word te vervul.

As kantoorpraktisyn moet jy verskeie take voltooi om die kantoor doeltreffend aan die gang te hou. Dit kan onder meer behels om met groot hoeveelhede dokumente te werk, navorsing te doen, telefoonoproepe te beantwoord, e-posse te stuur, dagboeke by te hou, vergaderings en afsprake te reël, interne kommunikasie, die opstel van verslae en om te verseker dat dinge van dag-tot-dag seepglad verloop.

’n Kantoorpraktisyn se hoeveelheid take kan oorweldigend en nimmereindigend wees, maar deur van moderne en doeltreffende sagteware-oplossings gebruik te maak kan jy die nodige ondersteuning kry en meer effektief te werk gaan.

In vandag se tyd is daar vir byna elke taak ’n pasgemaakte sagteware-oplossing om sake te vergemaklik en ook om tyd te spaar en so effektief moontlik te werk te gaan.

Van die sagteware-oplossings sluit programme in vir dag-tot-dag werksverrigting. Microsoft Office se programme soos Word, Excel en PowerPoint is ’n goeie voorbeelde hiervan. Daar is egter ook sagteware-oplossings vir ander take soos aanlyn vergaderings, projekbestuur en produktiwiteit, en vir skedulering en beplanning.

Zoom, Google Meet, Teams en Skype is van die gewildste programme vir aanlyn vergaderings en afsprake. Trello is ʼn samewerkingsinstrument wat projekte en doenlysies op borde organiseer. Spanne kan almal deel wees van dieselfde bord en met een oogopslag sien waaraan gewerk word, wie aan wat werk en waar iets in ʼn proses strek. Dit is ’n elektroniese weergawe van ’n wit bord met plaknotas en omdat dit aanlyn beskikbaar is kan almal deurlopend deel van die proses wees om projekte en take te bestuur.

Daar is ook sagteware-oplossings vir ontwerp. Canva kan jou help om uiters professionele aanbiedings saam te stel en kan ook gebruik word om foto’s en video’s te redigeer en pasgemaakte grafika te ontwerp. Daar is ook verskeie ander programme vir grafiese ontwerp of om net foto’s te redigeer of ’n kort video saam te stel.

Identifiseer dus al jou take en doen navorsing oor sagteware-oplossings wat hiervoor beskikbaar is. Meeste van die sagteware-oplossings is baie gebruikersvriendelik en daar is ook gewoonlik ’n magdom hulpbronne, soos selfleer-video’s, om jou te help om die betrokke sagteware vinnig onder die knie te kry en optimaal te benut. Baie van die sagteware het gratis opsies maar daar is ook betaalde weergawes wat meer en beter funksionaliteite bied.

Laat hierdie jaar die jaar wees wat jy tegnologie ten volle benut om jou werk as kantoorpraktisyn te vergemaklik. Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk is jou beroepstuiste, waar jy kan leer en innoveer.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel