
Foto Krediet: Verskaf | Wouter Lubbe
Gekopieër
Verlies op Goeie Vrydag
In hierdie blog deel die skrywer ʼn persoonlike verhaal oor hoe Goeie Vrydag, gewoonlik ʼn rustige tyd saam met familie, tragies verander het deur die verlies van ʼn kollega in ʼn mynongeluk. Hierdie voorheen veilige werksomgewing het skielik ʼn plek van rou geword, wat vrae laat oor veiligheid en verantwoordelikheid. Lees die blog hier.
Deur Wouter Lubbe, ʼn Solidariteit-verteenwoordiger vir die Mynbousektor
Goeie Vrydag is sekerlik een van die belangrikste dae vir my as ʼn Christen. Die kruisiging en opstanding van Jesus is die kern van my geloof. In die Lubbe-huishouding is Paasnaweek sinoniem met familietyd. Hierdie spesiale dag wou ek saam met my familie herdenk en die betekenis daarvan opnuut my eie maak.
My pragtige vrou was besig om braaibroodjies te maak toe ek die oproep kry. Daar was ʼn ongeluk by die myn en een van my kollegas het pas sy lewe verloor. Ek het yskoud geword, en ek het besef vandag is nie meer goed nie. Vandag het ʼn dag van groot verlies geword.
Daar is al na die myn waar ek werk, verwys as een van die veiligste ondergrondse myne in Suid-Afrika. Ons het op 12 April 2025 16 jaar sonder noodlottigheid gevier. Wie sou kon dink dat hierdie viering net ses dae later in verlies sou verander?
Elke persoon wat werk toe gaan, verdien om weer veilig na sy geliefdes terug te keer. ʼn Kollega wat sy lewe verloor terwyl hy by die werk is, beteken dat ons gefaal het. ʼn Pappa, ʼn eggenoot, ʼn seun het sy geliefdes op Goeie Vrydag gegroet, en het ná net drie uur by die werk sy lewe verloor.
Vandag dink ek na oor die laaste maand, en ek is hartseer. Elke dag wat ek aan die ondersoek deelgeneem het, was daar net een vraag wat op my hart gedruk het: Wat kon ons anders gedoen het? Wat kon ons gedoen het om die verlies van ʼn lewe te verhoed?
Ek het nog steeds nie ʼn antwoord nie, en soos die horlosie voorttik, besef ek net dat ons elke dag Goeie Vrydag moet vier, want ons weet nie wanneer die horlosie van ons lewens sal ophou tik nie.
Sluit vandag nog by Solidariteit se Mynbousektor-groep aan en bly op hoogte van die jongste nuus in jou beroep!