loading
Artikels
2 jaar gelede
verpleging-is-n-roeping

Foto Krediet: Solidariteit

Verpleging is ʼn roeping

Deur Maryna Eksteen

Die Here het vir elke persoon ʼn roeping gegee, maar nie almal se roeping is eners nie. Sommige mense word deur God geroep om met jongmense te werk en ander word geroep om geregtigheid te laat geskied. Verpleegkundiges word geroep om harte aan te raak en wonde van buite na binne te genees. Paulus skryf in 1 Korintiërs 7:20: “Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.” Om tot ʼn sekere professie geroep te wees, is ʼn groot verantwoordelikheid en eer. Dit is in hierdie roeping waar jy ʼn instrument in God se hand is om ʼn daadwerklike verskil in mense se lewe te maak.

Dit is geen geheim dat dit nie sommer in enige persoon se broek sit om ʼn verpleegkundige te wees nie. Die beroep kom met oneindige uitdagings. Dit maak nie saak wat ʼn verpleegkundige doen nie; of hulle nou bloedmonsters neem, met diagnose help of na-operatiewe sorg verskaf, verpleegkundiges speel ʼn integrale rol in die voorkoming van siektes en om genesing te bring. Verpleegkundiges is ʼn steunpilaar in die mediese wêreld wat ʼn enorme verskil in pasiënte se gesondheid en welstand maak.

Verpleegkundiges bied fisieke bystand

Verpleegkundiges moniteer pasiënte se vordering, neem bloedmonsters en meet temperatuur en bloeddruk. Hulle maak seker dat pasiënte medikasie ontvang en dat hul wonde versorg word. Verpleegkundiges verseker dat pasiënte nie pyn ervaar nie en hanteer alle omstandighede met empatie om te verseker dat geen pasiënt ooit verleë hoef te voel nie. Verpleegkundiges bied bystand wanneer pasiënte hulself nie kan help nie en ondersteun pasiënte tydens rehabilitasie.

Verpleegkundiges bied emosionele bystand

Alhoewel die fisieke sorg van pasiënte ʼn baie groot rol in ʼn verpleegkundige se beroep speel, is die emosionele rol ook baie belangrik. Verpleegkundiges bied dikwels vertroosting aan familielede wanneer ʼn pasiënt gesterf het. Hulle is ook dié wat bemoedigende woorde en berusting aan pasiënte bring wat voor of ná ʼn prosedure senuweeagtig of angsbevange is. Dit is die verpleegkundige wat na-ure bly om te verseker dat ander mense soos hul eie mense versorg word. Dit is die verpleegkundige wat geduldig is met ʼn moeilike pasiënt en wat verstaan dat dit nie ʼn persoonlike aanval is nie. Dit is die verpleegkundige wat ʼn koppie koffie vir die vrou aandra wat wag dat haar man uit die teater kom en wat ʼn pasiënt se hand vat om vir die pasiënt te laat weet dat hy of sy saak maak. Dit is die verpleegkundige wat ʼn verskil maak en God se liefde in oorvloed uitleef.

“ʼn Vrolike hart is goeie medisyne, maar ʼn verbryselde gees laat die gebeente droog word.” Spreuke 17:22 kon die verpleegkundige nie beter opsom nie. “ʼn Vrolike hart is goeie medisyne.” Jesus word nie net geprys vir sy vermoë om wonderwerke te verrig nie, maar ook vir die voortdurende liefde wat Hy aan diegene gee wat dit die nodigste het. Dít is waarom verpleegkundiges tot die verpleegberoep geroep is. Dit verg ʼn baie spesiale mens om dieselfde liefde as Jesus aan mense te toon, sonder oordeel en met ʼn gesonde ingesteldheid.

Verpleegkunde verg groot opoffering

Om na mense om te sien is om ʼn opoffering te maak. Verpleegkundiges se dae bestaan uit lang ure in moeilike en dreinerende toestande. Verpleegkundiges moet namens hul pasiënte sterk bly en dit kan soms moeilik wees om te sien hoe pasiënte ly. Verpleegkundiges staan dikwels by ʼn sterfbed en tyd genees nie altyd die seer nie. Hulle staan tyd met hul eie familie af omdat hulle verstaan dat hul beroep ʼn roeping is wat groot waarde dra.

Wees onmisbaar in jou beroep. Raak deel van ʼn gemeenskap waar jy jou roeping vry, veilig en voorspoedig kan uitleef. Klik hier om deel te word van Solidariteit se #verpleegkundigenetwerk, want jy is ʼn #VerpleegSTER in jou beroep.

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel