loading
Artikels
1 jaar gelede
verpleging-meer-as-net-pille-en-inspuitings

Foto Krediet: Solidariteit

Verpleging – meer as net pille en inspuitings

Deur Maryna Eksteen

Verpleging behels soveel meer as net inspuitings toedien en pille gee. Daar is ʼn verskeidenheid rigtings in verpleging en die Verpleegnetwerk laat die kollig op psigiatriese verpleegkunde val.

ʼn Psigiatriese verpleegkundige is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegkundiges as ʼn geregistreerde verpleegkundige (GV) geregistreer. ʼn GV is opgelei in algemene verpleegkunde en is ook as ʼn vroedvrou opgelei en gekwalifiseer. Die volledige opleiding verseker dat die pasiënt se gesondheid altyd in die geheel gesien word, wat beteken dat fisieke gesondheid, sosiale welstand en geestelike welstand in ag geneem word.

As ʼn verpleegkundige in psigiatrie wil spesialiseer, sal hy of sy ná die basiese opleiding verdere opleiding in psigiatrie ondergaan. Psigiatriese verpleegkundiges doen assesserings, observasies en verpleegdiagnose om pasiënte se psigiatriese probleme te hanteer en te monitor met die oog op hul geestesgesondheid. Die verpleegkundige se werk sluit aan by die werk van ander lede van ʼn multidissiplinêre span: ʼn psigiater, ʼn kliniese sielkundige, maatskaplike werkers, groepfasiliteerders, dieetkundiges, fisioterapeute, arbeidsterapeute en ook ʼn biokinetikus.

ʼn Psigiatriese verpleegkundige werk met pasiënte wat vir middelmisbruik behandel word, asook pasiënte met gemoedsversteurings, wat aan psigiatriese siektes, angstigheid of aan ontwikkelingstoornis ly, en behandel ook mense met gedragsprobleme. Daar word met volwassenes, tieners en kinders in verskillende gesondheidsorgomgewings gewerk. Die diens sluit gemeenskappe, families en die individu in. Die fokus bly op geestesgesondheid en om psigiatriese probleme te behandel deur mense te help om gespesialiseerde konkrete konsepte aan te leer. ʼn Psigiatriese verpleegkundige sal sy of haar behandelingsvaardighede toepas om mense na beter gesondheid in die algemeen te begelei.

In psigiatrie is dit belangrik om nooit uit die oog te verloor nie dat die liggaam soms deur fisieke simptome aandui wat eintlik behandel moet word. Psigiatriese verpleegkundiges moet dus oor goeie waarnemings- en interpretasievermoëns, asook goeie interpersoonlike vaardighede beskik.

Die psigiatriese verpleegkundige is tegelyk versorger, navorser, berader en kundige in mediese behandeling en psigiatriese terapie en moet saam met ander kundiges in die multidissiplinêre span kan werk om gehaltesorg in ʼn terapeutiese omgewing te skep en te handhaaf. Dit is belangrik om ʼn rustige, ontspanne atmosfeer waarin mense veilig voel en optimaal kan funksioneer, te skep.

Daar is ʼn groot tekort aan verpleegkundiges in Suid-Afrika sowel as internasionaal. Daar is nog groter tekorte aan psigiatriese verpleegkundiges sedert die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging kurrikulumveranderinge geïmplementeer het.

Volgens verpleegpersoneel by Vista Kliniek, ʼn privaat psigiatriese hospitaal, met wie ons oor die verpleegberoep gesels het, is verpleging ʼn beroep wat nie genoeg bemark en aan jong mense bekendgestel word nie. Veral psigiatriese verpleging word nie goed bemark nie en die persepsie wat TV en ander beeldmateriaal van psigiatriese siekte skep, lei ook tot wanpersepsie en skrik mense af om van psigiatriese verpleging ʼn beroep te maak.

Die vergoeding van verpleegkundiges is een van die uitdagings wat die beroep in die algemeen in die gesig staar. Danksy Solidariteit se verpleegnetwerk kan dié kwessie, asook ander brandpunte in die beroep in ʼn groter verband hanteer word. Klik hier om meer te lees oor hoe Solidariteit se verpleegnetwerk jou beskerm.

Indien jy nog nie ʼn lid van die Verpleegnetwerk is nie, klik hier om binne ʼn minuut by die netwerk aan te sluit of loer hier vir meer inligting.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel