
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Verslapping van eiendom-rasvereistes verwelkom
Deur Heléne Mocke
Die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns (PPRA) het onlangs hul vereiste om streng aan regulasies oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te voldoen ten einde die uitreiking van getrouheidsfondssertifikate te bekom, teruggetrek. Hierdie stap volg nadat die nuwe SEB-regulasies wydverspreide kritiek in die eiendomsbedryf ontlok het. Volgens hierdie regulasies moes eiendomspraktisyns minstens ʼn vlak 8-telling vir SEB behaal om vir ʼn getrouheidsfondssertifikaat in aanmerking te kom.
Solidariteit het hierdie besluit verwelkom. Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, sê die nuwe regulasies sou talle eiendomsagentskappe gedwing het om hul deure te sluit.
“Ons bly egter bekommerd oor die moontlike herinstelling van soortgelyke regulasies wat werksgeleenthede onregverdig beperk,” sê Roos.
Solidariteit is veral gekant teen die impak wat SEB-regulasies op klein ondernemings en nuwe toetreders tot die eiendomsbedryf kan hê. Volgens berigte sou die nuwe regulasies veroorsaak dat ongeveer 2 400 van Suid-Afrika se 6 200 eiendomsagentskappe moontlik hul deure sou moes sluit. Roos voeg by dat Solidariteit gereed is om alle nodige stappe, insluitend regstappe, te doen om hul lede te beskerm indien soortgelyke vereistes ingestel word.
Hoewel die terugtrekking van die regulasies die spanning in die eiendomsbedryf verlig het, waarsku Roos dat die kwessie sensitief bly en verdere gesprekke sal vereis om ʼn volhoubare oplossing te vind.
Solidariteit is gekant teen enige rassewette, en ná ʼn groot stryd wat by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gedraai het, het Solidariteit die regering gedwing om SEB-vereistes te verslap. Dit het gestalte gevind in die skikkingsooreenkoms wat tussen die regering en Solidariteit bereik is oor die wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming. Solidariteit herinner werkgewers daaraan dat dié skikking vir hulle geld en dit vereis onder meer dat geen werknemer op ʼn onbillike wyse afgedank mag word indien hulle nie aan regstellendeaksiemaatreëls voldoen nie.