
Foto Krediet: Verskaf | Magriet Groenewald
Gekopieër
#VlymskerpVerkope: Wie is Magriet Groenewald?
Deur Kyla-Ann du Toit
Sy is ʼn entrepreneur, ʼn sosialemedia-strateeg en die stigter van haar eie aanlyn sakeskool. Maar meer as dit – sy is iemand wat mense met oorgawe help om hul drome te bewaarheid. Magriet Groenewald, die dinamiese gasspreker by die volgende #VlymskerpVerkope-webinaarsessie, weet hoe om ingewikkelde bemarkingstegnieke eenvoudig en kragtig te maak.
Sy help weekliks honderde entrepreneurs, beïnvloeders en sake-eienaars om hul handelsmerke op sosiale media te bou – en hul ondernemings winsgewend te laat groei. “Daar is vir my niks mooier nie as wanneer iemand se oë begin blink en hulle besef: Ek kan dit regtig doen,” sê Magriet. “Dit is daardie oomblik van selfvertroue en hoop wat my gelukkig maak.”
Die kuns van eenvoudige en doelgerigte bemarking
Magriet is passievol oor bemarking wat werk – sonder die ingewikkelde tegniese geselsies en onnodige sagteware. Sy glo dat as jy iets nie maklik kan verduidelik nie, jy dit nie goed genoeg verstaan nie. “My eie platforms is my toetsgronde. As ek iets aanbeveel, is dit omdat ek dit self getoets het,” sê sy.
Hierdie benadering is wat haar aanlyn sakeskool, magriet.co, só doeltreffend maak. Dit bring bemarking terug na die kern: praktiese strategieë wat werklik help om verkope te dryf.
Lesse tot sukses
Magriet het self baie op haar entrepreneursreis geleer, en dié lesse deel sy met oorgawe aan ander. “Die grootste les wat ek al geleer het, is dat ek nie alles self hoef te doen nie,” sê sy. “Om te leer om te delegeer, grense te stel en net op my genie te fokus, het my hele onderneming getransformeer.”
Sy moedig ander aan om nie hul eiewaarde aan wins en statistieke te koppel nie. “Jou waarde lê nie in syfers nie, maar in wie jy is en die impak wat jy maak.”
Sukses is vir almal
Of jy ʼn boervrou, afgetrede onderwyser, jong ma of tegnologies-onseker mens is, Magriet het al gesien hoe mense van alle agtergronde hul eie aanlyn ondernemings suksesvol begin.
“Elkeen van ons het ʼn unieke kombinasie van stories, talente en passies – en dít is jou superkrag,” sê sy. “As jy dit met slim sosialemediabemarking kombineer, is daar geen rede waarom jy nie suksesvol kan wees nie.”
Magriet glo dat as jy bereid is om te leer, aan te pas en aan te hou probeer, daar altyd ruimte vir jou is om sukses te behaal.
Die #VlymskerpVerkope-webinaar
By die volgende #VlymskerpVerkope-webinaarsessie gaan Magriet praktiese, maklik toepasbare wenke deel om jou te help om jou sosiale media as ʼn verkoopskanaal te gebruik – sonder duur sagteware of ʼn bemarkingsgraad.
“Ons gaan spesifiek fokus op hoe om sosiale media strategies aan te wend om verkope te dryf sonder om soos ʼn verkoopspersoon te klink of te voel,” sê sy. “Ek gaan ook ʼn paar van my gunsteling-‘hacks’ deel wat ek self daagliks gebruik. Die sessie gaan prakties, pret en propvol waarde wees.”
Bespreek jou plek en bemagtig jouself
Moenie hierdie inspirerende sessie misloop nie! Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk se #VlymskerpVerkope-webinaar met Magriet Groenewald vind op 10 Julie 2025 om 13:00 plaas.
Hou jóú aanlyn groep dop vir meer inligting oor die webinaarsessie en ontdek hoe sosiale media jou loopbaan en verkope na nuwe hoogtes kan neem!