loading
Artikels
8 maande gelede
voldoen-jy-as-werkgewer-aan-die-relevante-arbeidswetgewing

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit is die sleutel tot die volgehoue sukses van jou onderneming

Deur Mynie Kriek

Dit is nie maklik om ʼn onderneming te bestuur nie. Dit behels soveel aspekte – van die finansiële kant waar daar verseker moet word dat die onderneming se laste nie die bates oorskry nie, tot die administratiewe take wat onder meer verband hou met die betaling van salarisse, belasting en ander verpligtinge.

Om ʼn werkgewer te wees, behels nie net om aan regsverpligtinge te voldoen nie, maar ook om menseverhoudinge en die verwagtings van werknemers te bestuur. Die volgehoue sukses van die onderneming kan slegs bewerkstellig word deur ʼn balans te handhaaf.

In die hedendaagse moderne sakewêreld, waar die fokus toenemend op die welstand van werknemers val, sien ons ʼn verskuiwing van die ou model van “baas en klaas” na ʼn meer samewerkende benadering. Dit is nie meer net die werkgewer wat die beheer het nie, maar die werkgewer en werknemer is albei bewus van hul onderlinge afhanklikheid. Werknemers is nie meer ʼn kommoditeit nie, maar ʼn waardevolle belegging wat ʼn onderneming help groei.

Die sukses van ondernemings soos die Virgin Groep onder leiding van Richard Branson illustreer duidelik hoe belangrik werknemerwelstand vir die algehele sukses van ʼn onderneming is. Gelukkige werknemers is produktiewe werknemers – en bemagtigde werknemers begin as werknemers wat bewus is van hul regte en die wetgewing wat hulle beskerm.

Werkgewers wat bewus is van die relevante wetgewing en hul verpligtinge teenoor werknemers, bestuur risiko’s doeltreffend. Indien ʼn werkgewer nie aan die nodige wetgewing voldoen nie, stel hy hom bloot aan moontlike boetes, tronkstraf, of hofbevele. Sekere soorte ondernemings kan inderdaad tydelik of permanent gesluit word indien sekere veiligheidswetgewing nie nagekom word nie.

Belangrike wetgewing waarvan ʼn werkgewer onder meer moet kennis neem, sluit in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (No.75 van 1997), die Wet op die Nasionale Minimum Loon (No.9 van 2018), die Wet op Arbeidsverhoudinge (No.66 van 1995) en die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (No. 85 van 1993). Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (No. 75 van 1997)(gelees saam met die Wet op die Nasionale Minimum Loon) skryf minimum standaarde aan ʼn werkgewer voor waarvan nie afgewyk mag word nie, terwyl die Wet op Arbeidsverhoudinge onder meer leiding gee ten opsigte van hoe om dissipline regmatig toe te pas teenoor werknemers wat hulle aan wangedrag skuldig maak.

Daarbenewens moet werkgewers verskeie ander verpligtinge nakom, soos die betaling van belasting, werkloosheidsversekering en die verpligte bydrae tot vaardigheidsontwikkeling. Deur hierdie verpligtinge nougeset na te kom, verseker werkgewers nie net die regsstabiliteit van hul onderneming nie, maar ook die algehele groei en welstand van hul werknemers.

Deur jouself te vergewis van die relevante wetgewing, kan jy as werkgewer verseker dat jou onderneming aan die regsvereistes voldoen – waarna gefokus kan word op die welstand en groei van jou werknemers.

In die wyse woorde van Richard Branson: “Beter werknemers bevorder kliëntediens.” Maak seker jy fokus nie net op regsnakoming nie, maar ook op die bemagtiging en welstand van jou werknemers – dit is die sleutel tot die volgehoue sukses van jou onderneming.

Solidariteit is daartoe verbind om die nodige gereedskap aan werkgewers én werknemers te bied om hul volle potensiaal te verbeter. Solidariteit se Leer-aanbod op sy platform bied vir werkgewers en werknemers die geleentheid om hulself met kennis te bemagtig deur verskeie webinare, kursusse vir voortgesette leer en artikels wat die jongste tendense in die werkplek bespreek.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel