
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse landbousektor in 2025
Die oorgang van El Niño na La Niña bring drastiese veranderinge in reënvalpatrone vir 2025 mee. Onsekerheid oor vanjaar se oeste heers, terwyl die huidige politiese onstabiliteit die omstandighede bemoeilik. Solidariteit het met dr. Dirk Strydom, hoof van Graan SA se Nampo-afdeling, gesels oor die verwagte uitdagings en vooruitsigte in 2025 vir die Suid-Afrikaanse landbousektor. Lees meer hier.
Die Suid-Afrikaanse landbousektor staar in 2025 verskeie uitdagings in die gesig, van wisselvallige weerpatrone tot politieke onsekerheid wat handel en belegging beïnvloed. Om ʼn dieper insig te verkry oor wat vanjaar vir dié sektor voorlê, het Pieter Burger, netwerkkoördineerder van die Landbousektor by Solidariteit, met dr. Dirk Strydom, hoof van Graan SA se Nampo-afdeling en bemarking- en navorsingsontwikkeling, gesels.
Dr. Strydom bespreek die belangrikste faktore wat bydra tot die onsekerheid in die landbousektor en gee ʼn voorspelling oor wat boere in 2025 kan verwag.
Volgens hom speel klimaatsverandering ʼn deurslaggewende rol in die jaar wat voorlê. Die oorgang van El Niño na La Niña bring drastiese verskille in reënvalpatrone mee. “Die skuif van El Niño na La Niña beteken nie noodwendig beter reënval regoor die land nie,” verduidelik hy. “Sommige gebiede ervaar aansienlike neerslae, terwyl ander steeds droog bly. In die ooste van die land was daar byvoorbeeld laat geplant weens aanvanklike droogte en laat reënval, en nou is dit weer droog. Hierdie wisselvalligheid bemoeilik beplanning vir boere.”
Hierdie onvoorspelbaarheid beïnvloed ook gewasproduksie en -pryse. “Dit is tans moeilik om presies te voorspel hoe die oeste gaan lyk,” sê dr. Strydom. “Markpryse is geweldig wisselvallig en word sterk deur weerberigte beïnvloed. Byvoorbeeld, indien swak reënval voorspel word wat oeste kan knou, kan die prys van mielies vinnig styg. Andersins kan goeie reënberigte pryse laat daal,” sê hy. Hierdie verskynsel staan algemeen bekend as “weer-markte”.
Benewens klimaatskwessies dra die huidige politiese onsekerheid ook by tot die uitdagings wat die landbousektor in 2025 in die gesig staar. Internasionale handel speel ʼn deurslaggewende rol in dié sektor en gaan net belangriker word vir Suid-Afrikaanse boere. Handelsooreenkomste, soos die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede (Agoa) met die VSA, het ʼn direkte invloed op die uitvoermark en uiteindelik die volhoubaarheid van plaaslike boerdery. Lees hier meer oor Solidariteit se standpunt oor Agoa.
Ten spyte van hierdie uitdagings, beklemtoon Burger die veerkragtigheid van Suid-Afrikaanse boere. “Met die regte strategieë en ʼn proaktiewe benadering kan die landbousektor steeds ʼn toekoms bou, al is dit ʼn onsekere een,” sê hy. “Ons boere het al bewys dat hulle hierdie uitdagings kán en sál oorkom.”
Danksy aanpassings- en deursettingsvermoë bly die Suid-Afrikaanse landbousektor ʼn belangrike dryfkrag van die ekonomie. Solidariteit is hier om jou by staan in hierdie onsekere en uitdagende tye en wil graag hierdie pad sáám met jou stap.
Die Landbousektor-groep is jóú aanlyn gemeenskap waar jy op hoogte kan bly van die jongste nuus en gebeure in jou beroep. Is jy nog nie ʼn lid van Solidariteit nie? Klik hier om vandag nog aan te sluit en ontsluit ál die voordele wat ʼn Solidariteit-lidmaatskap jou bied.