
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Vroue in Beweging – waar jy voluit vrou kan wees
Deur Maryna Eksteen
In Spreuke 31 lees ons dat ’n vrou meer werd is as edelstene. Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie, sy praat met wysheid en sy gee raad en liefde. Dit klink net soos Solidariteit Helpende Hand se Vroue in Beweging. Die Vroue in Beweging fokus daarop om vroue in Suid-Afrika te bemagtig om voluit vrou te wees deur om te sien na die werk, welstand en opleiding van die vrou sodat sy as pilaar van hoop in haar gemeenskap kan optree. Dit is die Vroue in Beweging se sienswyse dat ʼn gemeenskap slegs bevorder kan word as die gemeenskap self intree om die verskil te maak.
Dit klink beslis soos ’n vrou na God se hart. Om voluit vrou te wees, gaan natuurlik gepaard met fisieke, emosionele en geestelike uitdagings wat soms in die pad van ons vrouwees wil staan. Die Vroue in Beweging-inisiatief wil dié gapings tot ‘n beter lewe oorbrug en die kettings van armoede wat dreig om te vernietig, verbreek.
Die Vroue in Beweging-inisiatief is op Vrouedag, 9 Augustus 2023, by die AfriForum Teater bekendgestel en meer as 300 vroue was daarby betrokke. Die dag het in samewerking met groot name in die vermaaklikheidsbedryf soos Reandi Grey, Talana Vuren-Kuhn, Elme Churr, CheraLee en Carma plaasgevind. Die Vroue in Beweging het ook hul lied, “Blom in sy wese”, bekendgestel wat deur Elme Churr, CheraLee en Carma geskryf is. Klik hier om na hierdie lied te luister.






Die Vroue in Beweging is begrond in Christus en behandel daarom elke maand ’n tema wat op vrouwees fokus. In September 2023 het die vroue “Die vrou en haar skeppingsdoel” behandel in samewerking met die Finesse-tydskrif; lees hier meer. Die tema vir Oktober 2023 was “Wat is ’n Godvresende vriendin?” en die vroue het ook hande gevat met Solidariteit Helpende Hand en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Cansa) om die Boesemvriendin-projek te loods waar hulle 2 700 borsproteses ingesamel het vir vroue met kanker; lees hier meer.
In November 2023 het die vroue in samewerking met Akademia gekyk na vroue se verskillende roepings om bewusmaking oor verdere studie te skep. Lees gerus hier meer of klik hier om die volledige video-opname te kyk. In Desember het die vroue die jaar op ’n hoë noot afgesluit in met hulle tema “Die vrou in die gemeenskap – my mense en my rol”. Die vroue het weer met Helpende Hand hande gevat en bietjie gesels oor die Susanna Smit- studiefonds en hoe vroue hulself deur verdere studie en opleiding kan bemagtig.
Die Vroue in Beweging het ’n vol program vir 2024 en hulle begin elke maand van die jaar met ’n nuwe tema in samewerking met instellings van die Solidariteit Beweging soos AfriForum, AfriForum Teater, Solidariteit, Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Helpende Hand, Ons Winkel en nog vele meer. Die jaar beloof om volgepak te wees met temas soos geestelike voorbereiding om te trou, asook die volgende: Hoe leer ’n ma haar dogters om goeie vroue te wees en haar seuns om goeie mans te wees? Hoe hanteer ek my skuldgevoelens oor my verskillende rolle en tydindelings? Hoe verseker ’n vrou, ma en mens dat ʼn balans tussen werk en huis gehandhaaf word? Hoe ondersteun ’n vrou haar man? Wat was die name van die eerste vroue en wat beteken dit vir vandag? Die vrou as kroon van die man – wat beteken dit vir vandag? Geloof en roeping – hoe moet jy jou vrese as vrou aan die Here se voete te plaas? Waarom moet ’n ma haar kinders van Jesus leer? Wat is die vrou se unieke rol en plek in God se werke?
Volgens Rene Roux, voorsitter van die Vroue in Beweging, gaan daar saam met elke tema ’n projek geloods word wat die holistiese bestaan van die vrou aanspreek tesame met haar geestelike gemoed. Hierdie temas is die hart van die Vroue in Beweging en beloof om verrykend van aard te wees.
Dames kan ook uitsien na die #GirlsBootreis na die Portugese Eilande in samewerking met Finesse Voelgoed Tydskrif wat vanaf 24-25 Februarie 2024 plaasvind. Skryf voor 31 Januarie in vir die Girls-bootreis en staan ’n kans om ’n kaartjie vir hierdie onvergeetlike geleentheid te wen. Jou donasie van R50 aan die #VroueInBeweging dien as jou inskrywing vir hierdie geleentheid. Klik hier om meer te lees.
Die #VroueInBeweging bied op 8 Maart 2024 die heel eerste Vroue in Beweging-gholfdag aan! Die doel van die dag is om al ons vroueprojekte te ondersteun en ’n verskil in vroue se vrouwees, meisiewees, susterwees, ma-wees en vriendinwees te maak. Besoek gerus www.vroueinbeweging.co.za vir meer inligting of stuur ’n e-pos na reneroux@helpendehand.co.za.
Indien jy meer oor die Vroue in Beweging wil weet of graag ’n donasie wil maak om ’n verskil in ’n vrou se lewe te maak, klik hier. Saam kan ons voluit vrou wees en ons volle potensiaal bereik.