
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Vyf besigheidsidees vir skoolkinders wat jy in jou vrye tyd kan aanpak
Deur Karen Waldeck
As jy op soek is na maniere om jou vrye tyd te benut en ekstra geld te verdien, hoef jy nie verder te soek nie. Hier is vyf opwindende besigheidsidees wat jy kan aanpak terwyl jy nog op skool is. Kom ons kyk hoe jy jou kreatiwiteit kan gebruik om ʼn suksesvolle onderneming op te bou.
1. Tuisgebakte lekkernye
As jy ʼn passie vir bak het en ʼn paar heerlike resepte ken, hoekom begin jy nie jou eie bakkery nie? Jy kan koekies, koeke, terte of selfs gesonde happies maak en dit aan jou skoolmaats of plaaslike gemeenskap verkoop. Maak ʼn paar smaaklike monsters, deel dit gratis uit en kyk hoe die bestellings instroom!
2. Tuin- en skoonmaakdienste
Indien jy in staat is, kan jy dienste aanbied soos tuindienste, grassny, om blare te blaas of selfs eenvoudige skoonmaakwerk in die buurt. Deur ʼn paar advertenises in jou omgewing, kan jy vinnig ʼn kliëntebasis opbou en ʼn betroubare bron van inkomste skep. Jy het nie noodwendig gereedskap nodig nie, want die meeste huishoudings besit reeds al die gereedskap wat jy sal benodig om jou dienste aan hulle te bied.
3. Akademiese hulp
As jy ʼn spesifieke vak goed verstaan of goed is in ʼn vaardigheid, kan jy jou kennis met ander skoolkinders deel. Bied tutorsessies aan in vakke soos Wiskunde, Wetenskap of selfs Musiek. Dit kan individuele of groepsessies wees, en jy kan jou tariewe volgens jou ervaring en die aanvraag in jou omgewing aanpas.
4. Handgemaakte handwerk en kuns
Is jy kreatief? Jy kan jou handgemaakte handwerk en kunsprodukte vir ekstra geld verkoop. Dit kan enigiets wees van handgemaakte juweliersware tot unieke geskenke en dekoritems. Verkoop jou produkte op plaaslike markte, aan vriende en familie, of selfs deur ʼn aanlyn winkel op te rig. Hiervoor het jy nie groot kapitaal nodig nie. Jy kan ʼn paar items maak om vir ander te wys wat jy verkoop en dit dan slegs op aanvraag maak.
5. Honde stap en troeteldierversorging
Vir die diereliefhebbers is ʼn hondestappie of troeteldierversorgingsdiens ʼn wonderlike besigheidsidee. Jy kan met mense in jou buurt wat nie tyd het nie se honde gaan stap of hulle troeteldiere versorg. Jy kan dit daagliks of weekliks aanbied. Jy kan ook jou versorgingsdienste aanbied terwyl die eienaars weg is, of selfs huisoppasdienste aanbied terwyl gesinne met vakansie is. Dit is ʼn manier om jou liefde vir diere te gebruik om ekstra sakgeld te verdien.
Bonusidee:
6. Skryfwerk en redigering
As jy goed is met woorde en taal, kan jy jou vaardighede gebruik om dienste soos skryfwerk en redigering aan te bied. Bied aan om onder meer artikels of selfs CV’s vir skoolmaats of ander mense in jou gemeenskap te redigeer of te skryf. Dit is ʼn vaardigheid wat baie mense waardeer en waarvoor daar ʼn groot aanvraag is.
Danksy hierdie besigheidsidees kan jy jou vrye tyd produktief benut en ʼn bietjie ekstra geld verdien terwyl jy nog op skool is. Onthou om jou onderneming met integriteit en passie te bedryf, en moenie bang wees om te eksperimenteer en te leer nie. Indien een idee nie vir jou uitwerk nie, vat nog ʼn kans en probeer die volgende een. Solidariteit bied vir lede kursusse vir voortgesette leer wat jou kan help om nuwe vaardighede aan te leer en tot jou volle potensiaal te groei. Onthou, jy verloor slegs wanneer jy ophou probeer!