Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Vyf dinge wat elke graad 7-leerder (en hul ouers) móét weet voor graad 8
Deur Anja van den Berg
Die sprong van laerskool na hoërskool is groot vir kinders én vir hul ouers. Nuwe roetines, nuwe vakke, nuwe vriende en ʼn nuwe skoolkultuur kan vir ʼn graad 7-leerder opwindend, maar terselfdertyd oorweldigend voel.
Dit is ook die tyd wanneer jong mense begin besef hulle staan op hul eie bene: Niemand gaan meer elke stap fyn dophou nie. Met die regte voorbereiding kan hierdie oorgang egter ʼn opwindende begin van ʼn nuwe fase wees.
Kom ons kyk na wat elke graad 7-leerder (en hul ouers) kan doen om graad 8 met selfvertroue te betree:
1. Besoek die skool se sosiale media en webblad
Elke skool het sy eie kultuur, ritme en tradisies. Hoe vroeër jou kind dit verstaan, hoe makliker pas hulle in. Kyk na die skool se webblad, Facebookblad en Instagram-profiel. Let op hoe die skool hulself voorstel, watter aktiwiteite uitgelig word, en watter prestasies gevier word. Jou kind kan selfs die skoollied op YouTube luister en kyk of hulle dit al ʼn bietjie kan leer! So kom hulle met hul eerste dag reeds met trots en ʼn gevoel van behoort by die skool aan.
Bonuswenk: As daar ʼn oriëntasie- of opedag is, gaan woon dit saam met jou kind by.
2. Luister goed na aankondigings
Hoërskool beteken meer onafhanklikheid en ook meer verantwoordelikheid. Dit is nou jou kind se verantwoordelikheid om te weet wanneer projekte moet in wees, wanneer hulle toets skryf, en waar om belangrike inligting te kry.
Goue raad: Help jou kind om ʼn sisteem te ontwikkel. Dit kan ʼn fisiese beplanningsboek, ʼn muurkalender of ʼn slimfoonherinnering wees. Help hulle om sistematies te werk en hul sperdatums te orden. Onthou, dit is nie eenmalige perfektheid wat saak maak nie, maar konsekwentheid.
3. Let op na elke onderwyser se unieke reëls
Elke onderwyser is uniek en werk anders as die volgende. Party verwag stilte en orde, en ander moedig groepswerk en gesels aan. ʼn Slim leerder pas vinnig aan by elke onderwyser se styl.
Nota:Leerders kan al van vroeg af ʼn paar vinnige gedagtes neerskryf om elke onderwyser se voorkeur en persoonlikheid te onthou. Dit is ʼn eenvoudige, maar effektiewe, manier om goeie verhoudings vinnig te bou.
4. Vind sommer nou al uit watter vakke jy nodig het vir die loopbaan waarin jy belangstel
Selfs in graad 7 kan leerders begin dink oor watter vakke hul in die rigting van hul drome sal neem. Hou hulle van tegnologie, kuns, tale, of dalk wiskunde en wetenskap? Gaan kyk saam watter vakke hulle gaan help om daardie pad oop te maak. Dit hoef nie nou al ʼn finale besluit te wees nie; dit is bloot ʼn kans om nuuskierig te wees oor die toekoms en om doelgerig te begin dink.
Bonuswenk: Hoe beter leerders hulself ken, hoe beter vakkeuses kan hul maak om hul beroepsdrome en doelwitte te ondersteun. Om hierdie keuses makliker te maak, nooi Solidariteit alle ouers en leerders om gebruik te maak van ons gratis loopbaanvoorligting produkte vir kundige advies en raad.
5. Kommunikasie is deurslaggewend, veral digitale kommunikasie
In die hoërskool word jou woorde jou handelsmerk. Wees altyd vriendelik, hoflik en ordentlik, of dit nou in die klaskamer, op WhatsApp of op Instagram is. Moet nóóítoor ander skinder of slegte dinge sê nie, veral nie oor onderwysers of medeleerders nie. Onthou: Wat jy aanlyn plaas, bly altyd toeganklik, selfs al vee jy dit uit van jou kant af.
Maak ʼn knoop in jou oor. Vra altyd vir jouself: “Sal ek gemaklik wees as hierdie boodskap op ʼn groot plakkaat oor die snelweg verskyn?” As die antwoord “nee” is, dink twee keer voordat jy daardie “send”- of “post”-knoppie druk.
Die oorgang na hoërskool hoef nie angswekkend te wees nie. Met ʼn bietjie voorbereiding, selfkennis en nuuskierigheid kan dit een van die mooiste en opwindendste tye van jou kind se lewe wees. Elke nuwe begin bring onsekerheid, maar met die regte ondersteuning kan jy berge versit.
Solidariteit wil jou en jou kind help om hierdie nuwe fase vol selfvertroue aan te pak! My Hoërskoolpad is ʼn allesomvattende videoleerhulpbron wat spesiaal ontwikkel is vir graad 8- tot 12-leerders. Registreer vandag jou kind se gratis profiel op Solidariteit en kry gratis toegang tot waardevolle hulpbronne vir jou kind se hoërskoolpad.