Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Vyf tekens dat jy op die verkeerde loopbaanpad is
Deur Liza Joubert
Nie elke loopbaankeuse gaan van die begin af perfek voel nie. Soms neem dit tyd om by ʼn nuwe werkomgewing aan te pas of om nuwe vaardighede te ontwikkel. Tog is daar ʼn verskil tussen normale werkstres en die gevoel dat jy dalk op die verkeerde plek is.
Jong mense bly vassteek in werk wat hulle ongelukkig maak omdat hulle bang is vir verandering of voel hulle het reeds “te veel tyd gemors”. Die waarheid is egter dat dit nooit te laat is om ʼn verandering te maak nie.
Hier is vyf tekens dat jy dalk jou loopbaanrigting moet herevalueer:
1. Jy voel elke dag emosioneel uitgeput
Dit is normaal om soms moeg te wees ná ʼn lang dag, maar as jy konstant uitgebrand, angstig of emosioneel leeg voel, kan dit ʼn waarskuwingsteken wees. Wanneer jou werk jou energie tap sonder enige gevoel van vervulling, begin dit dikwels ook jou persoonlike lewe beïnvloed.
Volgens die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) kan langtermyn werkstres en ongelukkigheid ʼn groot impak op jou emosionele welstand hê.
Vra jouself af: Is dit die werk self wat jou ongelukkig maak, of is dit die werkomgewing en mense rondom jou?
2. Jy hou van die onderneming, maar nie van die werk nie
Soms werk jy by ʼn plek met goeie waardes, lekker kollegas en ʼn gesonde kultuur, maar die werk self maak jou nie opgewonde nie. Jy voel dalk verveeld, ongemotiveerd of asof jou talente nie regtig benut word nie.
In so ʼn geval hoef jy nie noodwendig dadelik te bedank nie. Dit kan beteken dat jy eerder ʼn ander rol of afdeling binne dieselfde onderneming moet verken. Die meeste ondernemings bied interne groeigeleenthede aan wat jou toelaat om nuwe vaardighede te ontwikkel sonder om van werkgewer te verander.
3. Jy geniet die werk, maar die werkomgewing maak jou ongelukkig
Aan die ander kant gebeur dit soms dat jy eintlik van jou werk hou, maar die mense, bestuurstyl of toksiese kultuur maak jou sielsongelukkig. ʼn Negatiewe werkomgewing kan jou selfvertroue, motivering en selfs jou geestesgesondheid beïnvloed.
As jy steeds passie het vir die soort werk wat jy doen, beteken dit nie jy moet jou hele loopbaan verander nie. Dit mag dalk net beteken dat jy ʼn soortgelyke rol in ʼn ander werkomgewing moet soek.
Volgens die Human Sciences Research Council (HSRC)speel werkkultuur en werknemerswelstand ʼn groot rol in produktiwiteit en bevrediging in jou loopbaan.
4. Jy groei nie meer nie
Wanneer jy voel jy leer niks nuuts nie, geen uitdagings kom na jou kant nie en dieselfde take oor en oor doen sonder enige ontwikkeling, kan dit ʼn teken wees dat jy vasgevang voel.
Jong mense het geleenthede nodig om nuwe vaardighede aan te leer en professioneel te ontwikkel. Die moderne werkwêreld verander vinnig, en mense wat aanhou leer, bly meer aanpasbaar en relevant.
Solidariteit-aanlyn bied nagenoeg 150 kursusse aan om jong werkendes te help om nuwe vaardighede te ontwikkel en hul volle potensiaal in hul loopbaan te bereik.
5. Jy kan jouself nie in hierdie loopbaan oor vyf jaar sien nie
Een van die belangrikste vrae wat jy jouself kan vra, is: “Kan ek myself nog oor vyf jaar hier sien?”
As die antwoord konstant “nee” is, moet jy eerlik met jouself wees oor hoekom. Soms beteken dit jy het bloot nuwe belangstellings ontwikkel. Ander kere beteken dit jy het ʼn loopbaan gekies op grond van druk, geld of ander mense se verwagtinge eerder as jou eie sterkpunte en doelwitte. Selfkennis is een van die belangrikste dele van goeie loopbaanbeplanning. Hoe beter jy jou sterk- en swakpunte verstaan, hoe makliker raak dit om ʼn loopbaan te kies wat by jou pas.
Stap jou loopbaanpad saam met Solidariteit
Om van rigting te verander beteken nie jy het misluk nie. Dit beteken jy leer jouself beter ken en maak slimmer besluite vir jou toekoms. Solidariteit wil die volle loopbaanpad saam met jou stap. Maak dus seker dat jy al jou voordele op Solidariteit-aanlyn geniet.
Registreer vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn indien jy nog nie het nie en bereik jou volle potensiaal in ʼn oogwink!