loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
vyf-vrae-van-die-vsa-solidariteit-beplan-groter-uitreik-vir-sa-oplossings

Foto Krediet: X (Bureau of African Affairs)

Vyf vrae van die VSA: Solidariteit beplan groter uitreik vir SA-oplossings

Verteenwoordigers van die Solidariteit Beweging is tans in die VSA op ʼn voorbereidingsbesoek om te skaaf aan oplossings vir Suid-Afrika se voortslepende handelsdispuut met die Amerikaanse regering.

Hierdie toer kan moontlik tot ʼn groter opvolgtoer later vanjaar lei.

Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit en Werner Human, die nuwe adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, verteenwoordig die Solidariteit Beweging in die VSA.

Vroeër vandeesweek het hulle aan die adjunkminister van buitelandse sake, verantwoordelik vir die Buro vir Afrika-aangeleenthede, Frank Garcia, besoek afgelê.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die vyf vrae van die Amerikaanse regering bespreek, insluitend landelike veiligheid, raswette en ander kwessies wat Suid-Afrika en Afrikaners raak.

Kleynhans en Human gaan ook met verskillende Amerikaanse regeringsafdelings vergader en beplan om met die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington te vergader.

“Dit is ʼn opbouende besoek wat daarop gemik is om oplossings te vind. Die Amerikaanse ambassade in Pretoria en die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington is bewus van die besoek.

“Die oplossings waarna gesoek word, fokus op die vyf vrae van die VSA. Die moontlike oplossings sal later vanjaar aan albei regerings en die twee ambassades voorgelê word.

“Dit sal die gevolg wees van verskeie gesprekke wat die afgelope jaar gevoer is.

“Die Solidariteit Beweging glo daar moet ʼn oplossing gevind word vir die handelsdispuut tussen die twee regerings,” het Buys gesê.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel