
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Waar is Afrikaans op ons skerms?
In ʼn era waar identiteit en insluiting aan die orde van die dag is, is die vraag eenvoudig: gaan die SAUK as ʼn ware openbare uitsaaier optree, of word sekere tale stil-stil afgeskryf? Lees die meningstuk hieronder.
Deur Heléne Mocke
Die onverklaarde afwesigheid van die Afrikaanse nuusbulletin op SABC2 en SABC3 oor die naweek van 5 en 6 April 2025 laat ʼn slegte nasmaak. In ʼn land waar taaldiversiteit nie net ʼn grondwetlike ideaal nie, maar ʼn noodsaaklike hoeksteen van ons demokrasie is, is só ʼn weglating beslis meer as net ʼn “skeduleringsfout”.
Dít was natuurlik die SAUK se verskoning.
ʼn Skeduleringsfout is seker nie die ergste sonde nie. Tog kan so ʼn weglating veel meer as net dit wees. Dit kan ook as ʼn blatante ontkenning van die SAUK se eie mandaat gesien word en die feit dat hierdie verklaring eers ná openbare druk na vore gekom het, maak dat ek die opregtheid van die SAUK se “verskoning” net nóg meer bevraagteken.
Het dit eers ʼn skeduleringsfout geword toe die Afrikaanse gemeenskap die SAUK daaroor aangevat het?
Wat gebeur as sulke “skeduleringsfoute” mettertyd die norm word? Gaan ons dit begin sien as ʼn geleidelike stilmaak van kleiner taalgemeenskappe? Of, erger nog, as ʼn toetslopie vir die afskaffing van tale wat nie polities gerieflik is nie?
Die SAUK is immers nie net ʼn uitsaaier nie. Dit is ʼn openbare instelling met ʼn grondwetlike verpligting: om taalgelykheid na te streef, om elke Suid-Afrikaner in hul moedertaal te dien, en om te verseker dat geen gemeenskap agter gelaat word nie. As een van die 11 amptelike landstale – en boonop een van die mees gesproke – verdien Afrikaans respek en erkenning.
Drukgroepe is reg om volledige, eerlike en spoedige terugvoer van die SAUK te eis. Dit gaan nie net oor een naweek se bulletin nie. Dit gaan oor vertroue en wantroue – in die instelling wat veronderstel is om ons almal te dien. Afrikaans verdien meer as verdagte verskonings. Dit verdien erkenning, geregtigheid en ʼn regverdige plek in die mediaruimte.
In ʼn era waar identiteit en insluiting aan die orde van die dag is, is die vraag eenvoudig: gaan die SAUK as ʼn ware openbare uitsaaier optree, of word sekere tale stil-stil afgeskryf?