loading
Artikels
1 jaar gelede
waar-kan-jy-nog-geld-spaar

Foto Krediet: OkayDeer

Waar kan jy nog geld spaar?

Deur Wilma Bedford

Jy dink dalk dat jy optimaal spaar, maar sal dalk verbaas wees oor ʼn paar ongewone maniere waarmee jy onnodige uitgawes kan bekamp.

Solidariteit Jongwerkende help nuwelinge in die werkplek met maklike spaarwenke, die opstel van ʼn begroting en ander wenke wat jou finansieel kan help. Lees hier meer oor die voordele wat Solidariteit Jongwerkende aan lede bied en hoekom jy vandag nog moet aansluit.

Jou spaarrekening: Raak vertroud met spaarplanne wat finansiële instansies bied. Dit is dom om groot bedrae geld in rekeninge te hou wat baie min rente bied. Wees ook vertroud met die bankkoste vir elke koop- en ontrekkingstransaksie wat jy maak; beplan sulke transaksies tot jou voordeel deur bv. eenmalig ʼn groot bedrag kontant te trek. Wees ook bedag op die diensgeld indien jy jou debietkaart by ʼn OTM gebruik waarmee jou kaart nie gekoppel is nie.

Kredietkaarte: Bereken die administrasiegeld en rente op laat betalings op jou kredietkaart. Gebruik slegs een kredietkaart en moenie in die slagyster trap om die een kaart te gebruik om jou ander rekening mee te diens nie. Beperk aankope op jou kredietkaart tot groot items waarsonder jy nie kan klaarkom of eenmalig uit jou salaris kan betaal nie.

Intekengeld: Dit behels maandelikse premies op aanlyn tydskrifte, speletjies of klubs wat jy nie ten volle benut nie of al van vergeet het. Dit kom miskien voor as ʼn klein en bekostigbare bedrag wat elke maand outomaties van jou rekening afgetrek word, maar hernuwing geskied gewoonlik sonder vooraf kennisgewing en teen daai tyd het jy al vergeet wat die subskripsie se fynskrif sê. Besluit of die aanlyn tydskrif jou werklik waarde bied en kanselleer die subskripsie vroegtydig.

Duur woonplek: Koop of huur wat jy werklik kan bekostig. Bereken hoeveel tyd jy daar deurbring. Jy slaap dalk net daar en die status wat jy koop deur in ʼn betrokke woonbuurt te bly, kan ʼn onnodige uitgawe wees.

Voertuig: Koop wat jy kan bekostig en hou vervoerkoste en instandhouding in gedagte by die aankoop van ʼn voertuig. Saam met jou huurkoop is daar ook finansieringskoste. Bereken hoeveel rente jy oor die huurkooptermyn moet betaal.

Kroeë en koffiewinkels is duur uithangplekke en kan vinnig ʼn duik in jou besteebare inkomste maak. Beperk jou kuiers daar en neem jou eie koffie werk toe eerder as om die koffiemasjien te gebruik. Beperk jou snoepie-aankope en koop eerder by die supermark.

Wegneemetes is duur, hoewel gerieflik. Berei eerder jou etes tuis saam met jou gesinslede voor waar elkeen ook ʼn vaardigheid kan aanleer. Aflewering kos meer en ʼn mens moet altyd ʼn fooitjie byreken. Beperk wegneemetes tot spesiale bederfgeleenthede. Beplan jou etes vooraf sodat jy nie wegneemetes hoef te kry nie.

TV- en internetaanbiedinge kan duur wees en ʼn langtermynuitgawe wees. Besluit wat jy werklik nodig het. TV-programme kan ook die volgende dag op die internet gevind word. Skakel meer gereeld die radio aan, wat nuus, aktualiteit en vermaak aanbied.

Versorg jouself: Deur bv. jou mondhigiëne agterweë te laat, kan jou duur te staan kom op die lange duur. Dieselfde geld vir jou fisiese gesondheid; voorkoming is beter as ʼn doktersrekening.

Goedkoop is duurkoop, lui die spreekwoord, maar dít beteken nie dat jy elke handelsmerk moet koop nie. Voordat jy koop, kyk na gehalte en vir hoe lank jy die produk wil gebruik. Dit gaan jou nie baat om ʼn goedkoper of onbekende fabrikaat wasmasjien te koop as dit nie gaan voldoen aan jou vereistes nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel