
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Waarom ignoreer kollegas my insette by die werk?
Deur Essie Bester
Verbeel jouself die volgende: Jy wil hê jou span moet met ʼn nuwe werkvloeistelsel eksperimenteer, maar hulle is verbind tot ʼn verouderde stelsel en stem nie saam met jou voorstel nie. Óf jy kom na vore met ʼn blinknuwe idee vir ʼn voorlegging aan ʼn kliënt, maar niemand stem daarmee saam nie.
Keer op keer probeer jy om jou kollegas die waarde van jou idee of oplossing te laat insien maar telkens word jy net met stilte begroet. Dit kan uitdagend wees om mense sover te kry om nie net na jou idees of sieninge te luister nie, maar ook om daarmee saam te stem of daarop te reageer – veral in die vroeë stadiums van jou loopbaan.
In situasies soos dié kies ons dikwels om ʼn rasionele argument te maak wat deur data ondersteun word en om daarmee vol te hou in die aangesig van uitdagings terwyl ons selfvertroue bly uitstraal. In die werkplek is hierdie benadering egter nie altyd genoeg nie en kan dit selfs teenproduktief wees, volgens ʼn onlangse artikel in Harvard Business Review. Wanneer ander nie by jou idees aanklank vind nie, is daar gewoonlik ʼn dieperliggende oortuiging of kommer wat hulle siening beïnvloed.
Indien jy aanhou hamer op feite en syfers is dit onwaarskynlik dat jy sal verstaan wat agter hulle weerstand skuil. Dit maak dit moeilik om hul bekommernisse aan te spreek en ontneem jou ook van nuwe perspektiewe wat jou kan help om te leer en jou denke te verbeter.
Maak eerder effektiewe kommunikasie jou doelwit en probeer om die ander persoon se redenasie te verstaan, in plaas daarvan om jou eie te probeer verduidelik. Goeie kommunikasie is ontsettend belangrik en as jy dit reg gebruik, kan dit jou baie verwarring spaar, veral in die werkplek. Solidariteit se omvattende kursus oor kommunikasie in die werkplek bespreek verskeie maniere van kommunikasie en nog vele meer.
Jy kan teenstand oorkom deur die volgende maniere:
Vra vir kollegas se outentieke reaksie op jou voorstel/le.
- • Hoe klink hierdie idee werklik vir jou?
- • Wat is jou reaksies op dit wat ek voorstel?
- • Wat sien jy as die sterk- en swakpunte van hierdie idee?
- • Watter potensiële nadele sien ek oor die hoof?
Deur vir kollegas se reaksies te vra, verhoog jy die kans dat jy sal ontdek wat hulle verhinder om te reageer soos jy wil hê hulle moet. Jy ontdek dalk selfs ʼn fout of twee in hulle denkwyse. Deur kollegas se reaksie te versoek, demonstreer jy boonop dat jy omgee oor wat hulle dink en voel.
Probeer om te sien wat jou kollegas sien in plaas daarvan om foute in hulle logika te probeer uitwys.
Vra vrae wat jou toelaat om die dieper oortuigings, belangstellings en ervarings wat hul posisie beïnvloed, te ontbloot.
- • Vertel my meer oor jou bekommernisse…
- • Noem ʼn paar voorbeelde van die risiko’s wat jou bekommer?
- • Het jy ʼn storie om te deel oor wanneer jy dinge soos hierdie in die verlede verkeerd sien loop het?
Agter ander se woorde skuil ʼn groot bron van inligting en ervarings wat hulle laat reageer soos hulle reageer. Gebaseer op hul antwoorde, kan jy ontdek waarom hul standpunt vir hulle perfek sin maak.
Miskien vind jy uit dat toe jou kollegas hul werkvloei in die verlede verander het, dit uiteindelik die datadeling vir die hele span bemoeilik het. Sodra jy sien wat hulle sien, kan jy jou eie sienings opdateer of ʼn meer pasgemaakte argument aanbied. Ten minste kan jy met hulle saamwerk om hul bekommernisse aan te spreek.
Moontlik kry jy die gevoel dat jou kollegas nie luister nie en net wag vir hul beurt om te praat.
Voorkom eensydige gesprekvoering sonder om regtig te luister deur ʼn oomblik te neem en jou begrip van wat die ander persoon sê, te toets. In plaas daarvan om die volgende sarsie woorde af te vuur wat jou argument kan ondersteun, kan jy opsom en “terugvertel” aan hulle wat jy dink jy hulle hoor sê het.
Dikwels sal jy ontdek dat jy iets belangriks verkeerd gehoor of misverstaan het. Só demonstreer jy hoeveel jy omgee om op dieselfde bladsy te kom en het jy ook nou ʼn beter kans om gemeenskaplike grond te vind.
Bostaande strategie verskuif die dinamika van die gesprek van teenstrydig na samewerkend en stel jou in staat om te verseker dat jy werklik die punt verstaan waarteen jy argumenteer.
Wrywing in al sy vorms, is ʼn algemene verskynsel in die werkplek en lei dikwels tot konflik. Dit hoef egter nie gesien te word as ʼn negatiewe en ontwrigtende krag nie. Dit kan ʼn bron van groei, vernuwing en kreatiwiteit wees, mits dit egter reg bestuur word. In Solidariteit se omvattende gevorderde kursus oor konflikbestuur word die teorie en analise van konflikbestuur uiteengesit terwyl die belangrikheid van emosionele intelligensie en effektiewe leierskap in konflikbestuur ook deeglik ondersoek word.
Dié aanlyn kursus, sowel as die voorheen genoemde kommunikasiekursus is ideaal vir enige iemand wat graag hul sagte vaardighede in die werkplek wil opskerp. #RaakTuis by Solidariteit en ontdek jou volle potensiaal. Klik hier om jou gratis profiel vandag nog te skep!