Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Wanneer beleid die sein afsny: Wat Starlink oor SEB verklap
Deur Charné Mostert
Suid-Afrika se rasgebaseerde regulasies het ʼn nuwe slagoffer: tegnologiese vooruitgang. Starlink – wat wêreldwyd internet vir afgeleë gebiede moontlik maak – is ideaal vir Suid-Afrikaanse plase wat dikwels sonder sein moet klaarkom. Boere kan noodkommunikasie opstel, met markte koppel en hulle sekuriteit verbeter. Tog is Starlink-bedrywighede onwettig in Suid-Afrika – nie oor tegniese redes nie, maar omdat dit nie aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) voldoen nie.
SEB vs. vooruitgang
Starlink is egter nie al een nie. Verskeie internasionale maatskappye het reeds weggestap van Suid-Afrika weens regulatoriese vereistes soos SEB en die eis vir plaaslike swart aandeelhouding. Dit wys hoe wetgewing wat sogenaamde ongelykhede moet regstel, in werklikheid groei en toegang belemmer. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in samewerking met die Vryemarkstigting se jongste verslag toon hoe erg die skade is: SEB kos die ekonomie R290 miljard per jaar en vernietig jaarliks meer as 192 000 werksgeleenthede. Die Starlink-geval wys uit hoe dit gewone mense direk raak – veral dié wat reeds in afgeleë en kwesbare omgewings woon.
Die stille optog begin
Toe die staat nie toegang tot Starlink wou toelaat nie, het burgers eenvoudig self opgetree. Toerusting is deur Mosambiek ingevoer en geaktiveer. Toe Starlink die toestelle afskakel, het entrepreneurs nuwe maniere gevind om dit wettig via buurlande te aktiveer en na Suid-Afrika terug te bring.
Dis nie ’n optog met baniere, luidsprekers en wapens nie – dit is ’n stille optog van selfstandigheid. Gewone mense wat oplossings skep in plaas daarvan om te wag vir goedkeuring. Maar selfs dié stil teenreaksie word nou deur die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika met boetes en inspeksies beantwoord bloot omdat dit nie aan rassewetgewing voldoen nie.
Van beleid na benadeling
Wat hier gebeur, is eenvoudig: burgers gebruik tegnologie om hulleself te help, maar die staat kies om hulle te straf – nie oor regmatigheid of veiligheid nie, maar oor ras. Rasseboetes, nie regsboetes nie.
Die Starlink-saak wys hoe wetgewing soos SEB al hoe verder in gewone mense se lewens begin inmeng – selfs in terme van tegnologie, dienslewering en persoonlike veiligheid. En dit is nie ’n uitsondering nie – dit is simptoom van ’n veel groter probleem.
Dit is hoekom die Solidariteit Regsfonds nodig is
Solidariteit se Regsfonds is daar om terug te veg. Dit is nie net ’n fonds vir hofsake nie – dit is ’n voertuig om beginsels te verdedig, toeganklikheid te bewerkstellig en wetgewing, wat burgers kniehalter, aan te vat.
Starlink is net een voorbeeld. Die probleem is sistemies. Jou bydrae help om te keer dat SEB en ander rassebeleide nie nóg meer skade aanrig nie – nie net in die ekonomie nie, maar in mense se daaglikse reg op vooruitgang. Lees die verslag oor die koste van SEB hier.