
Foto Krediet: Unsplash
Gekopieër
Wanneer sal beurtkrag ophou of afskaal?
Deur dr. Eugene Brink
Sal beurtkrag ooit ophou of afskaal na meer aanvaarbare vlakke? Indien wel, wanneer?
Hierdie vrae is op elke Suid-Afrikaner se lippe want hierdie vloek vernietig werk, heenkome en besighede. Hoewel dit feitlik onmoontlik is om die einde van of minstens ʼn beduidende afname in iets so gekompliseerd as beurtkrag te voorspel of te kwantifiseer, kan deskundige menings en inkomende data dalk ʼn redelike blik daarop werp. En dit lyk of die privaat sektor ʼn onmisbare rol speel om die hoop lewendig te hou, terwyl politici se uitsprake aangaande hierdie kwessie wisselvallig en dikwels oneerlik is.
Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BEN) het in Junie opgemerk dat, ten spyte van die teneerdrukkende vooruitsigte en sentiment in die land, daar tog redes vir optimisme is. “Die pyplyn vir nuwe energieopwekkingsprojekte in die privaat sektor wat deur Operation Vulindlela se ingebeddeopwekkingtaakspangevolg word, het van ongeveer 4 000 MW in Maart 2022 gespring na ʼn gekombineerde kapasiteit van 10 000 MW,” sê Luke Fraser van Business Tech.
“108 projekte met ʼn gekombineerde verwagte vastebeleggingvereiste van meer as R200 miljard is betrokke. Positief vir Suid-Afrika se onmiddellike energiebehoeftes is die feit dat 3 000 MW, wat gelyk is aan ongeveer drie fases beurtkrag, na verwagting volgende jaar besikbaar sal wees.”
Die BEN het gesê: “Ons is gevolglik versigtig om nie die huidige baie swak binnelandse besigheidstoestande na 2024 te ekstrapoleer nie. Hoewel stadig, word daar skynbaar tog agter die skerms meer vordering met die verligting van die uitmergelende kragbeperking gemaak as wat algemeen besef word.”
IOL het berig dat Kgosientso Ramakgopa, die minister van elektrisiteit in Julie tydens ʼn bespreking van die implementering van die Energieaksieplan vir langtermynoplossings vir beurtkrag beweer het dat “hulle deur samewerking met meer as 100 privaatsektordeelnemers daarin geslaag het om groot vordering te maak met die hantering van die uitdagings wat die sektor ondervind.
En tog, toe hy in dieselfde maand onder druk was om te sê of beurtkrag teen Desember 2023 sal eindig, het hy erken dat hy “baie bekommerd” is. “Op hierdie stadium verwag ons regtig nie dat ons na hoër fases beurtkrag sal moet gaan nie. Ons dink dat ons dit onder beheer het. Ek het nooit in absolute terme gepraat nie maar dit is net om aan te dui in watter mate ons dink dat ons nie hoër fases beurtkrag sal moet toepas nie.
“Ons beskou fase 6-beurtkrag as ʼn uiterste geval. Ek wil uitkom by ʼn stadium waar dit nie normaal is vir ons nie … die publiek moet geskok wees as dit gebeur. Maar ek sê nie dat ons nie in die toekoms na fase 6-beurtkrag sal teruggaan nie.”
Toe hierdie artikel in September 2023 geskryf is, is Suid-Afrika deur fase 6-beurtkrag gestriem. “Dit kom daarop neer dat beurtkrag teen die einde van hierdie kalenderjaar steeds met ons sal wees, maar ons sal alles moontlik doen om te verseker dat dit nie so intens sal wees nie sodat ons die ekonomie aan die gang kan kry,” het Ramakgopa gesê.
Dit is in stryd met die African National Congress (ANC) se sekretaris-generaal Fikile Mbalula se onlangse stellings. “Ek kan julle verseker dat beurtkrag omgekeer sal word en beslissend mee gehandel sal word. Ek weet vanuit my posisie en uit die werk wat deur die regering gedoen word dat beurtkrag voor die einde van die jaar iets van die verlede behoort te wees,” het hy gesê.
Eskom self maak geen dapper beloftes nie. “Eskom het beurtkrag tot in 2027 voorspel, en dat die situasie waarskynlik sal versleg namate die prestasie van sy steenkoolvloot aanhou verswak,” het Daily Investor in Junie berig.
“Hierdie voorspelling was deel van die nutsmaatskappy se mediumtermyntoereikendheidsverslag, wat tekorte in elektrisiteitsvoorsiening oor die volgene vyf jaar wil bepaal. Eskom verwag wisselende vlakke van beurtkrag oor die volgende vyf jaar en waarsku dat die ‘situasie sal versleg na gelang aanlegprestasie aanhou afwaarts neig’”.
Die energiedeskundige Clyde Mallinson sê dit is hoogs onwaarskynlik dat beurtkrag binne die volgende twee jaar opgelos kan word. “Ons is verby die punt waar ons beurtkrag maklik kan verminder en daarvan ontslae kan raak. Ons sal moet leer om daarmee saam te leef.”
Solidariteit steun ʼn gedesentraliseerde elektrisiteitsektor met volop keuses vir verbruikers. Opwekking op klein skaal deur huishoudings en die privaat sektor is ʼn integrerende deel hiervan. Dit is ook die rede waarom beurtkrag op die oomblik afneem: Suid-Afrikaners gebruik minder van Eskom se elektrisiteit. #OpOnsEie is die enigste pad vorentoe aangesien hierdie regering geen definitiewe oplossings het nie. Klik hier om vandag nog aan te sluit by Solidariteit.