loading
Artikels
8 maande gelede
wat-die-hart-van-vol-is-loop-in-die-werkplek-oor

Foto Krediet: Solidariteit

Wat die hart van vol is, loop in die werkplek oor

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk het op 22 Mei 2024 by ʼn netwerkgeleentheid gespog met die fokus op hoe emosionele regulering jou in die werkplek kan help.

Emosionele regulering is ʼn kernvaardigheid wat van onskatbare waarde vir maatskaplike werkers is. Hierdie vaardigheid behels die vermoë om jou emosies te verstaan, te bestuur en te verander op ʼn gesonde en produktiewe manier. In die uitdagende veld van maatskaplike werk, waar praktisyns dikwels met intens en soms traumatiese situasies gekonfronteer word, kan die vermoë om emosies effektief te reguleer die verskil wees tussen professionele volhoubaarheid en uitbranding.

Dr. Louise Aucamp, maatskaplike werker, het as spreker by die geleentheid opgetree.

Maatskaplike werkers werk dikwels met individue en gemeenskappe wat deur trauma, armoede, mishandeling, en verskeie ander vorme van nood geraak word. Hierdie omstandighede kan sterk emosionele reaksies uitlok, soos hartseer, woede, frustrasie en selfs ʼn gevoel van magteloosheid. Sonder effektiewe emosionele regulering kan hierdie gevoelens oorweldigend raak, wat lei tot hoë vlakke van stres en uitbranding. Dit kan ook die kwaliteit van diens wat aan kliënte gelewer word, negatief beïnvloed, aangesien emosionele uitputting die empatie en geduld wat só noodsaaklik in maatskaplike werk is, kan verminder.

Die eerste stap in emosionele regulering is om bewustheid te beoefen. Maatskaplike werkers moet in staat wees om hul eie emosies te herken, en aan hulle gevoelens ʼn naam te kan gee. Hierdie selfbewustheid stel hulle in staat om ʼn oomblik terug te staan en die situasie objektief te evalueer voordat hulle daarop reageer. Hierdie vaardigheid kan ook help om impulsiewe en moontlik skadelike reaksies te voorkom.

“Raak bewus van wat in jou liggaam aangaan, wat om jou aangaan, en verander die boodskap wat jou brein ontvang. Begin beweeg! Die idee is nooit om van emosie ontslae te raak nie, maar om my liggaam terug te bring na ʼn toestand van kalmte om die senuwees te kan reguleer,” sê dr. Aucamp.

Verder het dr. Aucamp verskillende tegnieke bespreek wat maatskaplike werkers kan gebruik om hul emosies te bestuur. Dit kan tegnieke insluit soos diep asemhaling, meditasie, en selfs fisieke aktiwiteit soos stap of joga. Hierdie strategieë kan help om onmiddellike emosionele reaksies te kalmeer en ʼn gevoel van beheer te herstel. Verder kan dit ook nuttig wees om tyd te neem vir selfrefleksie, hetsy deur middel van joernaalskryf of gesprekke met kollegas of ʼn toesighouer, wat ʼn veilige ruimte bied om emosies te verwerk.

ʼn Ander belangrike aspek van emosionele regulering, is die ontwikkeling van empatie sonder om self oorweldig te raak. Dit beteken dat maatskaplike werkers moet leer om hulself te versorg terwyl hulle ander versorg. Die konsep van professionele afstand is hier van toepassing – dit gaan oor die handhawing van ʼn balans tussen betrokkenheid by die kliënt se situasie en die behoud van gesonde emosionele grense.

Dr. Aucamp lê klem op die belangrikheid van verhoudings as ʼn emosionele reguleerder. Volgens dr. Aucamp is dit belangrik om ʼn ondersteuningsnetwerk te hê by wie jy kan klankbord en wie se teenwoordigheid jou kalmeer.

Solidariteit wil hand-aan-hand saam met jou jou loopbaanreis aandurf! Met sulke netwerkgeleenthede kan ons op ons eie manier jou help om jou koppie vol te maak, sodat ʼn dinamiese, omgeehouding in jou werk mag oorloop.

Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit, sluit aan by jou beroepsnetwerk, en ontsluit ʼn skatkis vol hulpbronne wat jou in jou beroep kan bystaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel