loading
Artikels
1 jaar gelede
wat-doen-vroedvroue-en-hoekom-is-hulle-belangrik

Foto Krediet: Pexels

Wat doen vroedvroue en hoekom is hulle belangrik?

Deur Nico Strydom

Die geboorte van ʼn baba is ʼn baie spesiale oomblik wat met ʼn mengelmoes van emosies gepaardgaan.

Dit is ʼn oomblik gevul met afwagting en onvoorwaardelike liefde wanneer jy daai klein lyfie vir die eerste keer sien en vashou.

Voor die koms van die baba is daar egter verskeie keuses om te maak, insluitend wie jou gaan bystaan met die geboorte van jou baba. Gaan jy ʼn ginekoloog, huisdokter, vroedvrou of doula gebruik, of ʼn mengsel hiervan?

Vroedvroue ondersteun ma’s gedurende hulle swangerskap, tydens die bevalling en in die eerste paar weke na die geboorte. Internasionale Dag van die Vroedvrou word op 5 Mei gevier om vroedvroue te vier en bewustheid te skep oor dié beroep.

Dr. Alida du Plessis-Faurie, ʼn gekwalifiseerde vroedvrou wat spesialiseer in neonatale verpleging en stigter van NEWBORNconnectSA, sê onafhanklike vroedvroue in privaat praktyk word geken aan sensitiewe, persoonlike en individuele versorging. “Dit behels gewoonlik een-tot-een aandag van die tyd van aanvang van kraam, die geboorte van die baba, versorging na geboorte, en sluit in raad en versorging tot ses weke na die geboorte van jou baba.”

Volgens Du Plessis-Faurie is haar ervaring dat baie vroue eerder privaat vroedvroue as primêre mediese sorggewers tydens kraam wil gebruik. “Dit is omdat vroue ingelig is oor hul liggame se vermoë om normaal geboorte te gee en oor die voordele van ʼn normale geboorte vir hul baba en ook vir hulself, waaronder ʼn kort hersteltyd en om in beheer te bly van hul eie keuses. Hulle weet dat privaat vroedvroue vir hul persoonlike aandag en tyd sal gee om die liggaam se natuurlike ritme te gebruik om geboorte te skenk aan ʼn nuwe mensie.”

Indien daar besluit word om van ʼn vroedvrou gebruik te maak, is dit volgens Du Plessis-Faurie baie belangrik om behoorlike huiswerk te doen. “Vra uit oor die onafhanklike privaat vroedvrou se filosofie oor geboorte en versorging, die aantal geboortes wat sy per maand doen, en vra om ʼn lys van vorige kliënte te kry om uit te vra oor hul geboorte-ondervinding. Dit sal natuurlik moeilik wees, want die POPIA sal die vroedvrou nie toelaat om kliënte se privaat inligting beskikbaar te maak nie. Dit is wel waar sosiale media ʼn voordeel het – vind uit oor terugvoer van die vroedvrou op sosiale media, want mense is eerlik op sosiale media.”

Daar is ook ander belangrike inligting om na te gaan. Dit sluit in die vroedvrou se kwalifikasies en registrasie by die Suid Afrikaanse Verpleegraad (SANC).

“Vind ook uit of die vroedvrou die vrou se geboortemaat of ondersteuningspersoon by die konsultasies en geboorte insluit. Stel vas wat die vroedvrou se ondersteuningstelsel behels, bedoelende sou meer as een geboorte op ʼn slag plaasvind, hoe sal die vroedvrou dit hanteer, wie werk saam met haar en is die ondersteuningstelsel, in die vorm van ander vroedvroue, ook gekwalifiseerd met goeie ondervinding en geregistreer by die SANC.”

Vroedvroue moet voorgeboorte klasse en konsultasies beskikbaar maak, meen Du Plessis-Faurie. “So bou die vroedvrou en swanger paartjie ʼn verhouding van verstaan en vertroue met mekaar. Navorsing wys dat wanneer ʼn vrou en haar geboortemaat, goed voorberei is oor wat in die liggaam plaasvind tydens kraam, die proses en geboorte ongekompliseerd kan wees.”

Dit is verder baie belangrik dat die vroedvrou opgedateerde kennis en ʼn plan van aksie het sou dinge tydens die swangerskap of geboorte skeefloop. “Vind uit hoe en na wie sy jou sal verwys. Het die vroedvrou ʼn goeie werksverhouding met ginekoloë en hospitale om oor te neem sou daar komplikasies wees? Wie is die naaste en beste nooddienste en wat is haar werksverhouding met hulle? Selfs ʼn ongekompliseerde geboorte kan in ʼn noodgeval ontaard waar die pasgebore baba resussitasie benodig: kan die vroedvrou dit reg toepas, het sy al die nodige hulpmiddels en weet sy wanneer om dit toe te dien.”

Solidariteit se mediese beroepsnetwerke – die Aptekersnetwerk, Doktersnetwerk en Verpleegnetwerk – het ten doel om dié beroep te bevorder en te beskerm asook om die gemeenskap te herinner aan die belangrike rol wat hulle speel.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel