
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wat het hoërskoolleerders werklik nodig? Solidariteit stel ondersoek in!
Dit is geen geheim dat hoërskoolleerders groot uitdagings in die gesig staar nie. Solidariteit stel ondersoek in om uit te vind wat hoërskoolleerders werklik nodig het – en jy kan jou deel doen deur net ‘n kort vraelys in te vul!
Wat is die grootste struikelblokke wat ons hoërskoolkinders vandag in die gesig staar – akademies, sosiaal én geestelik? Watter rol speel kommunikasie tussen ouers en onderwysers in leerders se ontwikkeling? En watter tipes ondersteuning werk regtig – aanlyn, in persoon of dalk ’n slim kombinasie van die twee?
Dié vrae lê aan die hart van Solidariteit se jongste navorsingsprojek, wat daarop gemik is om insig te verkry oor hoe ons hoërskoolleerders se welstand en toekomsvooruitsigte daadwerklik verbeter kan word. En jy kan deel wees van die oplossing – jou insette kan ‘n beduidende verskil maak!
Volgens Johnell Prinsloo, ’n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, vorm die hoërskoolfase die grondslag van ’n jongmens se beroepspad.
“Die besluite wat jy op hoërskool neem, vorm nie net jou akademiese prestasie nie – dit rig ook jou toekoms. Solidariteit wil saam met leerders, ouers én onderwysers werk om suksesvolle toekomste moontlik te maak,” sê sy.
Wat behels dié navorsing en hoekom is dit belangrik?
Prinsloo verduidelik dat die data uit die navorsing Solidariteit in staat sal stel om met presiese, gerigte oplossings vorendag te kom.
“Die insigte sal ons help om vas te stel watter ondersteuning hoërskoolleerders regtig nodig het – of dit nou akademies, emosioneel of sosiaal is. Maar net so belangrik, sal dit ons wys hoe ons ouers en onderwysers beter kan toerus om hul kinders en leerders te ondersteun.”
Hierdie bevindinge gaan ‘n sleutelrol speel in die ontwikkeling van Solidariteit se Skoliere-aanbod. “Ons wil ons hulpbronne verder verfyn en uitbrei sodat elke leerder die gereedskap het om hul hoërskoolloopbaan met selfvertroue aan te pak – en om uiteindelik hul toekomsdrome te bereik.”
Ouers en onderwysers: Ons het jou insette nodig
Dié opname is spesifiek op ouers en onderwysers gerig – die mense wat weet wat werklik in ons skole aangaan.
“Ouers en onderwysers sien daagliks die uitdagings én die potensiaal van ons jongmense. Hulle is die spilpunt van ondersteuning en begeleiding, en ons het hul perspektief nodig om ‘n volhoubare impak te maak.”
Jou mening tel – dit neem net 5 minute!
Deur hierdie kort vraelys te voltooi, help jy Solidariteit om beter, meer doelgerigte programme te bou wat werklik ’n verskil maak in ons skole en gemeenskappe.
Klik hier om deel te neem aan die opname.