loading
Artikels
6 maande gelede
wat-is-die-mees-gewilde-loopbane-in-suid-afrika

Foto Krediet: OkayDeer

Wat is die mees gewilde loopbane in Suid-Afrika?

Deur Karen Waldeck

Dit is ʼn opwindende tyd in jou kind se lewe: hulle staan op die drumpel van ʼn wêreld vol geleenthede en avonture, en hul loopbaankeuse is een van die belangrikste besluite wat julle gaan neem. Dit kan nogal oorweldigend wees!

Gelukkig is daar baie opsies beskikbaar, en jy kan ʼn beroep kies wat jou talente en passies weerspieël. In hierdie artikel gaan ons kyk na die gewildste en vinniggroeiende loopbane in Suid-Afrika en hoe Solidariteit jou en jou gesin kan ondersteun sodat julle sukses kan bereik.

Gewilde en groeiende loopbane in Suid-Afrika

1. Inligtingstegnologie (IT)

Die IT-bedryf groei vinnig en bied ‘n wye verskeidenheid van loopbane, insluitend sagteware-ontwikkeling, kuberveiligheid, en data-analise. Die wêreld beweeg al hoe meer  na ʼn digitale toekoms, en IT-vaardighede is in groot aanvraag. Met die regte opleiding kan jou kind ʼn loopbaan hê wat nie net goed betaal nie, maar ook internasionale geleenthede bied.

2. Ingenieurswese

Ingenieurswese is ʼn tydlose beroep wat altyd in aanvraag sal wees. Of jou kind nou belangstel in siviele-, elektriese-, meganiese-, of chemiese- ingenieurswese, daar is altyd ʼn plek in hierdie veld. Ingenieurs speel ʼn sleutelrol in die bou en instandhouding van infrastruktuur, die ontwikkeling van nuwe tegnologieë, en die verbetering van ons daaglikse lewens.

3. Gesondheidsorg

Die gesondheidsorgsektor is een van die mees dinamiese en noodsaaklike sektore in enige land. Beroepe soos dokters, verpleegsters, fisioterapeute, en farmaseutiese spesialiste is baie gewild. Hierdie loopbane is in baie groot aanvraag in meeste lande vandag. Dit is die beste loopbaan om te volg wanneer jou kind daarvan hou om mense te help en terug te gee vir die gemeenskap.

4. Finansies en rekeningkunde

ʼn Kop vir syfers en ʼn liefde vir analise, is die perfekte kombinasie vir ʼn loopbaan in finansies of rekeningkunde. Hierdie velde bied verskeie moontlikhede, van rekenmeesters en finansiële beplanners tot beleggingsbankiers en ouditeurs. Hierdie beroepe is noodsaaklik vir die ekonomiese gesondheid van enige maatskappy en land. Met hierdie agtergrond kan jou kind by enige maatskappy aansoek doen vir werk.

5. Onderwys

Onderwysers speel ʼn onontbeerlike rol in die vorming van die volgende generasie. Dit is ʼn beroep wat ʼn onmisbare impak op die samelewing het. As jou kind ʼn passie vir leer het en ʼn  begeerte het om ander te inspireer, oorweeg ʼn loopbaan in onderwys. Daar is altyd ʼn behoefte aan bekwame en toegewyde onderwysers in verskeie vakke en op verskillende vlakke.

Wat bied Solidariteit vir jou toekoms?

Solidariteit bied ʼn reeks programme en hulpbronne aan wat jou kan help om jou loopbaandoelwitte te bereik. Hier is ʼn paar maniere hoe Solidariteit jou kan ondersteun:

Loopbaanvoorligters

Besluit watter loopbaan gaan vir jou gepas wees deur psigometriese toetse te doen. Vra die kundige met wie jy kontak maak vir die Belangstellingsbepaler-pakket. Hierdie pakket, wat vir lede van Solidariteit en deelnemers aan Solidariteit se Skoliere-aanbod beding is, gaan jou ’n maksimum van R2 500,00 kos en sluit die volgende in:

  • ten minste een geakkrediteerde psigometriese toets wat jou aanleg bepaal;
  • ten minste een geakkrediteerde psigometriese toets wat jou persoonlikheid analiseer;

en ten minste een konsultasie wat ’n uur lank duur met die kundige van jou keuse.

Vind ʼn loopbaanvoorligter naby jou. Klik hier.

Internskappe en praktiese opleiding

Solidariteit help ook met die reël van internskappe en praktiese opleiding sodat jy waardevolle ervaring in jou gekose veld kan opdoen. Hierdie praktiese ervaring is dikwels die sleutel tot suksesvolle indiensneming.

Studieondersteuning  

Studiebeurse en studielenings is beskikbaar vir studente wat verdere studies wil aanpak. Hierdie finansiële ondersteuning kan ʼn groot verskil maak in jou vermoë om jou drome te verwesenlik sonder om bekommerd te wees oor die koste van onderrig.

Jou kind se loopbaankeuse is só belangrik en dit gaan jou kind se toekoms vorm. Deur bewus te wees van die gewildste en groeiende loopbane in Suid-Afrika, kan jy en jou kind ʼn ingeligte besluit neem wat by sy of haar passies en vaardighede pas. Moenie huiwer om die geleenthede wat beskikbaar is, ten volle te benut nie. Jou kind se droomloopbaan is binne jou bereik!

Besoek Solidariteit se webtuiste vir meer inligting en om jou pad na ʼn blink toekoms te begin. Skep vir jou kind ʼn gratis profiel op Solidariteit en ontsluit al hierdie voordele om ʼn vry, veilige en voorspoedige loopbaan vir jou kind te help bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel