Foto Krediet: Kyle Glenn | Unsplash
Gekopieër
Wat is die vrye mark?
Deur dr. Eugene Brink
Ofskoon die vrye mark, oftewel markekonomie, vir verskeie betekenisse, vertolkings en benaminge kan hê, het dit tog sekere inherente eienskappe.
Die ekonome Philip Mohr en Louis Fourie beskryf dit as volg: “Markstelsels word dikwels kapitalistiese stelsels genoem. Net soos sosialisme en kommunisme, verwys kapitalisme na ʼn bepaalde vorm van eienaarskap van die produksiefaktore (soos grond en arbeid). Terwyl die meeste produksiefakore in sosialistiese en kommunistiese stelsels aan die staat behoort, word ʼn kapitalistiese stelsel deur privaatbesit gekenmerk.”
Jan Janse van ensburg, Campbell McConnel en Stanley Brue skryf desgelyks dat privaatbesitreg die hoeksteen van ʼn markstelsel is. “Hierdie reg tot private eiendom, tesame met die vryheid om bindende regskontrakte te beding, stel indiwidue en besighede in staat om eiendomshulpmiddele na hartelus te verkry, gebruik en verkoop. Eiendomsreg moedig belegging, innovasie, uitruiling, onderhoud van eiendom en ekonomiese groei.”
Die rede vir hierdie voordele is dat dit, anders as in sentraalbeheerde stelsels soos kommunismebestelle, as aansporing dien vir mense om daarna te streef om eiendom te bekom, hard te werk om beter werk te kry, en geld te maak. Indien die stelsel deur die staat beheer word om te besluit oor wat die vrug van iemand se arbeid sal wees en hoe hulle dit sal verdien, vernietig dit enige aansporing of aspirasie om te verbeter. Onder verskeie variante van markstelsels het entrepreneurs, werkers en mense in die algemeen die vryheid van keuse om met hul eiendom en arbeid te doen wat hulle wil sonder dat die staat aan hulle voorskryf.
Die markstelsel behels voorts die koördinering en kommunikasie van besluite en voorkeure deur die markmeganisme. “Die belangrikste elemente van hierdie meganisme is die markpryse. Markpryse is seine of sinjale van skaarste wat vir die verbruikers aandui hoeveel hulle moet opoffer om die betrokke goedere of dienste te bekom. Terselfdertyd gee markpryse ook vir die eienaars van die produksiefaktore ’n aanduiding van hoe daardie produksiefaktore die beste aangewend kan word,” sê Mohr en Fourie.
Dit is wat die vermaarde Skotse ekonoom en filosoof Adam Smith as die “onsigbare hand” beskryf het. “Wat moet in die markstelsel geproduseer word? Die antwoord: dis daardie goedere en dienste waarop verbruikers gewillig is om hul inkomste te bestee en wat winsgewend geproduseer kan word. Goedere wat verbruikers nie wil hê nie, sal nie geproduseer word nie.”
Hierdie eienskappe is van groot belang omdat dit doeltreffendheid vir produsente verhoog terwyl die verbruiker se wense nagejaag word. Uiteraard sal verbruikers ook verskeie alternatiewe hê. Mededinging (hoewel nie altyd volmaak nie!) is dus ʼn belangrike kenmerk van die markekonomie. “Mededinging onder kopers en verkopers versprei ekonomiese mag binne die besighede en huishoudings wat die ekonomie uitmaak,” skryf Janse van Rensburg, McConnel en Brue.
Markekonomieë se bykomende deugde is arbeidspesialisering, oftewel die verdeling van arbeid. Mense en ander entiteite verbruik nie als wat hulle produseer nie en daarom kan hulle hul hulpbronne daarop toespits om ʼn beperkte getal goedere of dienste te produseer en verder aan te koop wat hulle nodig het. Die voordeel hiervan is dat dit hulle in staat stel om te doen wat hul vaardighede en tyd toelaat en dit verhoog vervolgens doeltreffendheid.
Daar is egter geen suiwer markstelsel ter wêreld nie. Suid-Afrika, Australië, die VSA en Singapoer het almal in wisselende mate regerings wat belasting hef en regulasies afdwing, terwyl hulle ook verskillende soorte en groottes besighede het en privaat eiendomsbesit toelaat. Markstelsels is dus in wese sogenaamde “gemengde ekonomieë”. Regerings maak dus onder meer seker dat die werkloses en ander weerloses deur middel van maatskaplike toelaes gehelp word, terwyl hulle ook ander reëls skep waaraan besighede moet voldoen. Dit is nie altyd wenslik nie (soos gesien met Eskom se staatsbeheerde oorheersing in die kragsektor), maar dit is ʼn werklikheid.
Om egter te kan floreer in enige soort markekonomie, is dit belangrik dat werkers hulself aantreklik maak en selfstandigheid bevorder. Dit geskied deur byvoorbeeld opleiding en ook deur hard en vindingryk te werk. Solidariteit en sy opleidingsinstellings stel jou juis in staat om dit te doen en staan ʼn dominante staat se skadelike impak teen deur die krag van die gemeenskap.