loading
Artikels
1 jaar gelede
wat-is-jou-regte-by-aftrede

Foto Krediet: JD Mason - Unsplash

Wat is jou regte by aftrede?

Deur Mariette Redelinghuys

Arbeidswetgewing maak geen melding van ʼn aftreeouderdom nie en dit is dus iets wat normaalweg tussen die werknemer en die werkgewer in ʼn dienskontrak ooreengekom word. Wanneer die aftreeouderdom in die dienskontrak bepaal is, sal die dienskontrak dan outomaties op die ooreengekome ouderdom tot ʼn einde kom. Daar is egter gevalle waar daar geen ooreenkoms ten opsigte van aftreeouderdom is nie, of dit kan gebeur dat die werknemer nadat die aftreeouderdom bereik is, bly werk sonder dat ʼn nuwe aftreeouderdom vasgestel is.  Hierdie artikel verduidelik wat jou regte is wat aftrede en diskriminasie ten opsigte van ouderdom betref.

Wat sê die wet?

Ingevolge artikel 187 (1)(f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (No.66 van 1995) sal diensbeëindiging suiwer op grond van ʼn persoon se ouderdom as outomatiese onbillike ontslag beskou word. Daar is egter ʼn uitsondering op die reël in artikel 187(2)(b) wat bepaal dat diensbeëindiging op grond van ouderdom nie onbillik sal wees indien die werknemer die normale of ooreengekome aftreeouderdom bereik het nie.

Indien daar dus ʼn ooreenkoms of kontrak met jou werkgewer is wat bepaal wanneer jy moet aftree, of indien die werkgewer die normale aftreeouderdom in die werkplek kan bewys, sal dit nie as onbillik beskou word nie.

Die gevestigde praktyk in die werkplek kan oorweeg word indien die dienskontrak nie voorsiening maak vir ʼn ooreengekome aftreeouderdom nie. ʼn Maatskappy se beleid ten opsigte van aftreeouderdom kan hier moontlik duidelikheid bied, asook ander faktore, soos wanneer persone normaalweg by die maatskappy aftree en wat die aftreeouderdom ingevolge die maatskappy se pensioenfonds is. Indien daar geen aanduiding van ʼn aftreeouderdom is nie, kan ʼn werknemer nie gedwing word om af te tree indien die werknemer nog in staat is om sy of haar pligte na behore uit te voer nie.

Wat moet gebeur indien jy bly werk nadat jou ooreengekome aftreeouderdom bereik is?

Regspraak is nie duidelik oor die regte wat ʼn werknemer het wat bly werk ná bereiking van ʼn aftreeouderdom nie. Dit is egter raadsaam om met die werkgewer oor aftrede te onderhandel en ʼn ooreenkoms ten opsigte van ʼn nuwe aftreeouderdom te bereik. Sodoende word sekerheid vir albei partye geskep.

Is ek geregtig op ʼn uitbetaling of bonus vir my jare se diens?

Indien jou dienskontrak of ʼn maatskappy se beleid voorsiening maak vir die uitbetaling van ʼn bedrag by aftrede, sal jy daarop geregtig wees. Indien nie, rus daar geen verpligting op die werkgewer om enige bedrag geld by aftrede aan jou te betaal nie, behalwe opgehoopte verlof (indien van toepassing) en jou laaste maand se salaris. Enige bykomende betalings of bonusse sal op grond van die diskresie van die werkgewer betaal word. Jy sal wel kan aansoek doen vir jou pensioen- of voorsorgfondsvoordele. Indien jy nie oor ʼn pensioen- of voorsorgfonds beskik nie, sal jy vir ʼn  staatspensioen kan aansoek doen.

Indien jy as ʼn lid van Solidariteit jou regsvoordeel wil benut besoek www.solidariteit.co.za of stuur ʼn e-pos na regsdienste@solidariteit.co.za. Jy hoef nie alleen te staan in jou beroep nie. Solidariteit stap die volle loopbaan pad saam met jou. Klik hier om vandag nog aan te sluit.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel