loading
Artikels
2 maande gelede
wat-is-rassediskriminasie-nou-regtig

Foto Krediet: Verskaf

Wat is rassediskriminasie nou regtig?

Rassisme in Suid-Afrika, volgens die ANC se woordeboek, vloei net in een rigting. Ons lieflike regering skroom nie om die “rassekaart” te speel wanneer dit hulle pas nie, en die realiteit is dat daar talle Suid-Afrikaanse burgers is wat nie werklik die konsep van rassediskriminasie verstaan nie.

Kom ons kyk dus bietjie krities na werklike voorbeelde van diskriminasie wat op grond van ras gebaseer is.


Deur Marné Pienaar

Rassediskriminasie vind plaas wanneer ʼn persoon minder gunstig behandel word, of nie dieselfde geleenthede gegun word as ander in dieselfde situasie nie, as gevolg van hulle ras, die land waar hulle gebore is, hulle etniese oorsprong of die kleur van hulle vel.

As jy móói gelees het, sou jy opgelet het dat daar nêrens in hierdie definisie na wit/swart verwys word nie. Ja, dit sal ʼn verskriklike verrassing vir die ANC en die MK wees, maar rassediskriminasie is nie outomaties net van toepassing op een kleur nie.

Dus, hoe lyk rassediskriminasie in die realiteit? Aan die hand van drie voorbeelde sal jy sien dat daar daagliks teen wit mense in Suid-Afrika gediskrimineer word. Dalk is daar al teen jou gediskrimineer.

1. Rassediskriminasie in die werkplek

Definisie: om bevordering of aanstelling geweier te word, ten spyte van meriete, as gevolg van jou ras.

Voorbeeld: Renate Barnard

Kaptein Renate Barnard het vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerk toe sy aansoek gedoen het vir ʼn bevorderingspos wat geadverteer is. Ses ander persone het ook vir die pos aansoek gedoen, maar die onderhoudpaneel het 86,7% aan haar toegeken en almal het haar as die beste kandidaat vir die pos aanbeveel.

Die streekskommissaris het egter aangedui dat sy nie aangestel kon word nie as gevolg van haar ras – sy was nie “verteenwoordigend” nie. Sy het 17,5% beter presteer as die volgende kandidaat. Die pos is nie gevul nie. ʼn Jaar later is die pos weer geadverteer en sy het weer aansoek gedoen, en met 85,33% is sy weer deur die onderhoudpaneel aanbeveel. Die streekskommissaris het hierdie keer wel aangedui dat sy aangestel moes word, maar ten spyte daarvan dat sy die beste kandidaat was, het die nasionale kommissaris nie die aanstelling bekragtig nie. Die pos is geskrap, omdat ʼn geskikte swart kandidaat nie beskikbaar was nie. Die pos is toe wel vir ʼn derde keer geadverteer.

Barnard het weer aansoek gedoen, maar haar aansoek is voor die onderhoudsproses verwyder. Solidariteit het vir Barnard opgetree in die arbeidshof en toe later in die Konstitusionele Hof, maar daar is beslis dat die aanstellingsproses binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse regstellendeaksie-wetgewing geskied het.

2. Rassegebaseerde ekonomiese uitsluiting

Definisie: Om mense toegang tot ekonomiese geleenthede – soos werksgeleenthede, finansiële steun, kontrakte of hulpbronne – te ontneem op grond van hul ras. Dit gebeur gewoonlik deur regeringsbeleid, korporatiewe strategieë of wette wat sekere groepe bevoordeel terwyl ander benadeel word.

Voorbeeld:

Die voormalige minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het in 2021 aangekondig dat die Toerismefonds wat daargestel is om besighede by te staan tydens die Covid-19-inperking, slegs vir swart mense beskikbaar is. Die lenings en toelae is slegs toegestaan aan ondernemings wat 51% of hoër swart eienaarskap het. Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn interdik aan Solidariteit en AfriForum toegestaan wat hierdie rasfonds belet het.

Nog ʼn voorbeeld:

In 2018 kom dit onder Solidariteit se aandag dat die Yes4Youth-jeugwerkloosheidsinisiatief eenvoudig nie wit werklose jong mense toelaat om op die webwerf te registreer nie. Al terugvoer wat ʼn mens gekry het, is ʼn boodskap wat stipuleer dat die program slegs oop is vir jong, werklose mense wat bruin, swart of Indiër is.

Die program diskrimineer dus direk teen werklose wit mense in die naam van regstelling.

Na druk vanaf Solidariteit het Yes4Youth aanvanklik gestel dat die program oopgestel is vir alle rasse, maar omdat die program in bestaande SEB-wetgewing gesetel is, kan hulle steeds daarmee wegkom om swart werkloses bo wit werkloses te bevoordeel. Tegnies is die program vir jongmense van alle rasse oop – maar besighede kan slegs SEB-punte uit die program verdien indien hulle werklose swart, bruin of Indiër-jeugdiges in diens neem.   

3. Rassediskriminasie in sport

Definisie: Om onbillike rassekwotas in sportspanne af te dwing, selfs al kan dit die prestasie van die span negatief beïnvloed. ʼn Atleet wat verteenwoordigend is, word vir die span gekies bo die beter atleet.

Voorbeeld:

Fikile Mbalula, die destydse minister van sport, het in 2014 gedreig om Suid-Afrika se sportspanne te verbied om aan internasionale sportbyeenkomste deel te neem as hulle nie swart genoeg is nie. Hierdie inmenging in sport het die toppunt van absurditeit bereik toe verskeie netbalspanne tydens die 2020 Telkom-netballiga hulle wedstryde “verloor” het omdat hulle vir ʼn hele kwart van die wedstryd die verkeerde rassesamestelling van spelers op die baan gehad het. In die geval van die Mpumalanga Sunbirds was die absurditeit dat hulle te veel swart spelers op die baan gehad het. 

Gevolgtrekking

Rassewette moet weg!

Op ekonomiese vlak, op sportvlak en in die werkplek behoort die beste kandidaat die een te wees wat op meriete kwalifiseer. 

Solidariteit verwelkom pres. Donald Trump se internasionale druk op die ANC. Ja, uiteindelik is Suid-Afrika se wanpraktyke nou in die kollig en oop vir die wêreld om te sien.

Met die G20-beraad op eie bodem bring Solidariteit hierdie kwessie onder die wêreld se aandag. Verstikkende rassereëls dryf beleggers weg, beperk ekonomiese groei en hou miljoene mense vasgevang in armoede. Dit moet stop!

Bevry SA van die las van ras!

Klik hier as jy saamstem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel