
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wat jy alles tydens hierdie belastingseisoen moet weet
Deur Karen Waldeck
Die belastingseisoen is ʼn belangrike tyd om jou finansies in oënskou te neem. Dit is wanneer ons ons finansiële huiswerk doen en ons geldstories aan die belastingman vertel. Dit is amper soos ʼn jaarlikse finansiële uitdaging waarin ons diep in ons sakke delf om te sien hoe ons geld kan aanwend en ons belasting kan betaal. Dit is ook ʼn kans om ʼn bietjie meer te leer oor ons finansiële gewoontes en hoe Suid-Afrika se belastingstelsel werk. Trek dus jou sakrekenaar nader en kom kyk na alles wat jy tydens hierdie belastingseisoen moet weet.
1. Inkomstebronne
Een van die belangrikste dinge om te verstaan, is om te weet hoe jy jou inkomste genereer. Dit sluit in jou salaris of loon, wins uit ondernemings, huurinkomste, beleggingsopbrengste, ensovoorts. Al hierdie inkomste moet aangegee word.
Watter dokumente benodig benodig jy hiervoor?
- • ʼn Salarisstrokie of IRP5 vanaf jou werkgewer
- • ʼn IT3(b)-sertifikaat wat jy vir beleggings ontvang het
- • Bewys van inkomste van eiendomverhuring
- • Besonderhede van kilometers wat vir werk afgelê is (en indien jy enige reistoelae ontvang het)
- • Enige inligting met betrekking tot kapitaalwinstransaksies
2. Aftrekkings
Aftrekkings is al jou uitgawes wat jy van jou belasbare inkomste kan aftrek. Dit help jou ook om in ʼn laer belastingkategorie te val. Dit is belangrik om alle bewyse van dit waarvoor jy belastingaftrekkings eis, te hou.
Wat kan jy alles van jou belasbare inkomste aftrek?
- • Mediesefondsbydraes of enige ander mediese uitgawes wat jy self gedek het. Jou mediese fonds sal vir jou ʼn sertifikaat uitreik. Indien daar mediese uitgawes is wat jy kontant betaal het, moet jy ʼn bewys daarvan kan voorlê.
- • Pensioenfondsbydraes (Dit sal gewoonlik op jou IRP5 aangeteken word.)
- • Verblyfstoelae (Jy kan slegs verblyftoelae aftrek as dit op jou IRP5 verskyn.)
3. Belastingkoerse
Dit is belangrik om te verstaan watter belastingkoers op jou inkomste van toepassing is. Belastingkoerse kan verskil na gelang van jou totale inkomste en of jy ʼn individu, maatskappy of ʼn trust is.
Wat is die belastingdrempels per ouderdomme in 2024 – ’25?
- • Enige persoon onder die ouderdom van 65 jaar oud moet belasting betaal indien die persoon se salaris R95 750,00 of meer per jaar is.
- • Enige persoon tussen die ouderdom van 65 en 74 jaar oud moet belasting betaal indien die persoon se inkomste R148 217,00 of meer per jaar is.
- • Enige persoon wat 75 jaar oud of ouer is moet belasting betaal indien die persoon se inkomste R165 989,00 of meer per jaar is.
4. Belastingvrye toelae
Daar is ʼn verskeidenheid belastingvrye toelae vir individue om hul belastinglas te verminder. Dit sluit in basiese belastingvrystelling, mediese belastingkrediete en ouderdomsbelastingvrystelling.
5. Die indieningsproses
Die proses om jou belastingopgawe in te dien, kan maklik wees as jy weet wat om te doen. Indien jy onseker is oor wat om te doen, kan jy altyd ʼn professionele boekhouer of belastingadviseur raadpleeg. Jy kan dit elektronies indien deur middel van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se eFiling-stelsels of op papier by enige van die SAID se kantore. Maak seker dat jy al die nodige dokumentasie byderhand het.
6. Indieningstydperk
Dit is belangrik om te onthou dat daar ʼn spesifieke indieningstydperk vir belastingopgawes is. Die belastingseisoen begin op 8 Julie en strek gewoonlik tot Oktober. Dit is belangrik om bewus te wees van hierdie datums en om te verseker dat jou opgawe betyds ingedien word om enige moontlike boetes of rente te vermy.
7. Terugbetalings en uitstaande betalings
As jy op ʼn terugbetaling geregtig is, kan dit ʼn gerieflike bonus wees, maar moenie té opgewonde raak nie. Terugbetalings kan tot en met 21 werksdae neem of soms nóg langer. Indien jy uitstaande belastinggeld aan die SAID verskuldig is, moet jy verseker dat jy dit betyds betaal om enige rente of boetes te vermy.
8. Bewaring van dokumentasie
Bewaar al jou belastingverwante dokumente vir ʼn minimum van vyf jaar ná die indiening van jou opgawe. Dit sluit in al die bewyse en ondersteunende dokumente vir jou inkomste en aftrekkings. Jy mag dit weer in die toekoms benodig indien die SAID besluit om ʼn oudit te doen om te verseker dat alle inligting akkuraat ingedien is.
Deur hierdie basiese beginsels van inkomstebelasting te verstaan, kan jy jouself beter toerus om die belastingseisoen suksesvol af te handel. Onthou om akkuraat te wees, jou dokumentasie te bewaar en om nie bang te wees om vir hulp te vra indien jy dit benodig nie. Danksy ʼn bietjie beplanning, kan jy die belastingseisoen met gemak aanpak.
Solidariteit bied aan jong werkendes ʼn waardevolle hulpbron om hul eerste belastingseisoen te benader. Danksy hierdie aanlyn webinaar, “Belasting vir jong werkendes”, kan jong werkendes hul belasting baasraak.
Lede van Solidariteit kry gratis toegang tot meer as 70 aanlyn kursusse en met ons lidmaatskap vir jong werkendes, kan jong mense tussen die ouderdom van 19 en 25 vir slegs R95 per maand die volle voordele van ʼn Solidariteit-lid geniet. Registreer vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit!