
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wat jy moet weet oor beserings aan diens (BAD)
Wat gebeur as jy op pad werk toe of tydens jou diens in ʼn motorongeluk beland? Hierdie artikel verduidelik jou regte wanneer jy ʼn besering aan diens opdoen, en hoe die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Coida) jou in só ʼn geval beskerm. Coenie Rheeder, netwerkorganiseerder vir Solidariteit, deel belangrike inligting oor vergoeding, belastingvoordele en waarom jou siekverlof nie geraak word nie. Lees meer hier.
Deur Kyla-Ann du Toit
In Suid-Afrika is dit algemeen dat werknemers daagliks op paaie is – of dit nou is om werk toe te ry of omdat hul werk self reis vereis. Wat gebeur egter as jy tydens werk in ʼn motorongeluk betrokke raak en beseer word? Kan jy dan ʼn eis vir ʼn besering aan diens instel? Die antwoord is: ja, in sekere gevalle – en die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (bekend as Coida), beskerm jou.
Coenie Rheeder, netwerkorganiseerder vir Solidariteit se mynbousektor, deel belangrike punte oor wat jy as werknemer in só ʼn geval móét weet:
1. Wat kwalifiseer as tydelike arbeidsongeskiktheid?
Coida dek gevalle van tydelike arbeidsongeskiktheid – dit is wanneer ʼn werknemer nie kan werk nie omdat ʼn dokter hom of haar afgeboek het vir mediese behandeling ná ʼn besering aan diens, of omdat die werkgewer nie alternatiewe werksake vir die werknemer beskikbaar het nie.
2. Wie moet betaal – en hoe lank?
Volgens artikel 47(3) van Coida moet die werkgewer die werknemer se verdienste betaal vir die eerste drie maande ná die ongeluk plaasgevind het – solank die werknemer wettig afgeboek is. Ná hierdie tydperk kan die werkgewer kies of hy wil aanhou betaal, maar hulle hoef nie. Die Vergoedingskommissaris, Rand Mutual of FEMA, neem dan oor.
3. Siekverlof mag nie gebruik word nie
Belangrik: Hierdie tyd van arbeidsongeskiktheid mag nie van jou siekverlof of jaarlikse verlof afgetrek word nie. Dit is spesifiek uitgesluit ingevolge artikel 24 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.
4. Hoeveel word jy betaal?
Die wet verwys nie na “salaris” nie, maar na “verdienste” en “vergoeding”. Ingevolge artikel 63 van Coida beteken dit jy kry 75% van jou gemiddelde verdienste, wat dinge soos oortyd, behuisingstoelaes en voedselvoordele insluit. Hierdie bedrag is egter onderhewig aan ʼn vasgestelde maksimum.
5. Werkgewer kan vergoeding terug eis
Die goeie nuus vir werkgewers is dat hulle die volle bedrag wat hulle aan die werknemer betaal het vir dié tydperk, by die Vergoedingsfonds kan terug eis. Hulle ly dus geen finansiële verlies nie.
6. Belastingvrye voordeel
Nog ʼn belangrike voordeel: enige vergoeding wat jy vir ʼn besering aan diens (soos deur Coida bepaal) ontvang, is belastingvry ingevolge die Wet op Inkomstebelasting (No. 58 van 1962). Werkgewers moet dus nie belasting op hierdie betalings aftrek nie.
7. Wat gebeur ná drie maande?
Sodra die drie maande verby is, hoef die werkgewer nie meer te betaal nie. Die werknemer kan dan self by die Vergoedingskommissaris eis. Let egter daarop dat daar geen verdere eis van enige instansie af gemaak kan word vir die verskil tussen 75% en 100% van die verdienste nie – juis omdat dit belastingvry is.
Solidariteit staan jou by!
As jy dus in ʼn motorongeluk betrokke is terwyl jy aan diens is of op pad werk toe is (en dit deel van jou werksverpligtinge is), kan jy dalk die reg hê op vergoeding onder Coida. Jy behou jou verlof, jy ontvang 75% van jou gemiddelde verdienste belastingvry en jou werkgewer het die reg om daardie bedrag terug te eis.
Jy hoef egter nie hierdie proses ooit alleen aan te pak nie. Solidariteit staan gereed om jou regte te beskerm! Kontak Solidariteit se Dienssentrum en kry die nodige bystand wat jy verdien.