loading
Artikels
3 dae gelede
wat-maak-van-jou-n-uitmuntende-verkoopspersoon

Foto Krediet: OkayDeer

Wat maak van jou ʼn uitmuntende verkoopspersoon?

Deur Kyla-Ann du Toit

Het jy al ooit gewonder wat ʼn goeie verkoopspersoon van ʼn ware meester in die bedryf onderskei? Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, deel sy insigte oor die ingesteldheid, tegnieke en eienskappe wat topverkopers van die res in hierdie beroep onderskei.

1. Dit gaan nie net oor verkope nie

Volgens Johan is daar drie eienskappe wat kenmerklik is van ʼn uitmuntende verkoopspersoon: “ʼn Werklike begrip van die kliënt se behoeftes; ʼn langtermynbenadering tot verhoudings; en die vermoë om met selfvertroue en eerlikheid waarde te kommunikeer.”

Dit gaan dus nie oor wat jy verkoop nie, maar hoekom en aan wie. Die beste verkopers bied ʼn oplossing – dit is mense wat luister, verstaan en dan met integriteit reageer.

2. Tegnieke wat ʼn verskil maak

Vir verkopers wat hul vaardighede wil slyp, beveel Johan drie praktiese riglyne aan:

“Begin met voorbereiding: verstaan jou mark, ken jou produk en weet wie jy vandag gaan bel of besoek. Doen dit daagliks. Tweedens, gebruik vrae om die kliënt aan die praat te kry – moenie net inligting deel nie. En laastens: maak jou opvolgstrategie altyd persoonlik. ʼn Kort, reguit WhatsApp-boodskap of e-pos ná ʼn gesprek bou vertroue en behou jou in daardie persoon se gedagtes.”

Hierdie tegnieke skep nie net ʼn professionele struktuur nie, maar bou ook menslike konneksie – die ware grondslag van suksesvolle besigheid.

3. Begin net

Vir nuwelinge in verkope is Johan se raad eenvoudig, maar kragtig: “Moenie wag tot jy gereed voel nie – begin net. Jy leer nie slegs deur opleiding nie, maar ook deur te doen. Foute is deel van groei, en konsekwente aksie bou vaardigheid.”

Verkope is nie ʼn eenmalige ding nie, maar ʼn roetine van volgehoue aksie. Klein daaglikse stappe lei tot groot sukses.

4. Van goed tot uitmuntend

Wat is die verskil tussen ʼn “goeie” en ʼn “uitmuntende” verkoper? Johan stel dit só: “ʼn Goeie verkoper doen wat nodig is. ʼn Uitmuntende verkoper doen wat moontlik is. Hulle dink verder as net die verkoopsproses – hulle dink aan impak. Hulle stel belang in mense en nie net in kommissie nie.”

Hierdie ingesteldheid bou ʼn reputasie wat nie net lojaliteit verseker nie, maar ook aanbevelings lok – een van die sterkste vorme van bemarking.

5. Die regte ingesteldheid

“Jy moet glo in wat jy doen, asook in jouself. ʼn Verkoopspersoon met ʼn ingesteldheid van diensbaarheid, deursettingsvermoë en aanpasbaarheid is goud werd. Aan die einde van die dag verkoop jy nie net ʼn produk nie – jy verkoop vertroue,” sê Johan.

Dit is hierdie ingesteldheid, tegnieke en eienskappe wat topverkopers van die res onderskei – ʼn volgehoue fokus op waarde, verhoudings en vertroue. Dit is nie ʼn ingewikkelde of geheime resep nie – dit is eintlik heel eenvoudig.

Deur hierdie raad te volg en in jou werk te implementeer, kan jý ook ʼn topverkoper wees.

Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk wil jou in jou beroep bemagtig sodat jy geleenthede vir groei kan ontdek, jou netwerk kan uitbrei en in jou beroep kan uitstaan.

Sluit vandag nog by jou aanlyn beroepsgemeenskap aan en begin jou reis na ʼn suksesvolle loopbaan in verkope saam met Solidariteit – jou betroubare loopbaanvennoot!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel