loading
Artikels
2 dae gelede
wat-se-die-studente-in-2025-oor-solidariteit-se-arbeidsverhoudinge-internskap

Foto Krediet: Solidariteit

Wat sê die studente in 2025 oor Solidariteit se arbeidsverhoudinge-internskap?

Deur Leré Nel

Elke jaar bied Solidariteit aan tien studente die unieke geleentheid om hul akademiese kennis in die werklike wêreld van arbeidsverhoudinge toe te pas. Dié jaarlikse internskap, wat reeds sedert 2015 plaasvind, bied vir hierdie studente nie net ʼn week van opleiding nie – dit is ʼn intense, praktiese en inspirerende onderdompeling in die wêreld van arbeidsverhoudinge.

ʼn Blik op die arbeidswêreld

Gedurende hierdie jaar se internskapprogram het studente van verskillende universiteite, insluitend Akademia, die Noordwes-universiteit (NWU) en die Universiteit van Pretoria, ʼn week by Solidariteit se hoofkantoor deurgebring. Vanjaar is hulle ook geneem na instansies soos Akademia, Sol-Tech, Maroela Media en Helpende Hand. Maar dit is nie al nie – dié groep het ook die ongelooflike geleentheid gehad om die Mponeng-myn, die diepste myn ter wêreld, te besoek.

“Ek het nog nooit vantevore in ʼn skag afgegaan nie. Om tussen die mynwerkers te wees en daardie realiteit te sien, het my diep geraak,” vertel Zhaq Fourie, ʼn derdejaar LLB-student aan Akademia. “Ek het nuwe respek gekry vir die mense waarvoor Solidariteit veg – en vir die kompleksiteit van die wêreld van arbeid.”

Praktiese leer – van kruisondervraging tot CV-ontwikkeling

Die interns se week was propvol praktiese leergeleenthede: van ʼn fiktiewe werkaansoekproses tot ʼn denkbeeldige onderhoud met terugvoer van kenners. Hulle het ook aan ʼn oefening deelgeneem waarin hulle kruisondervraging in ʼn gesimuleerde werksituasie moes hanteer – iets wat Leandri Fourie, ʼn honneursstudent in Arbeidsverhoudingbestuur aan die NWU, as haar gunstelingoefening beskryf.

“Ek het regtig gevoel ek leer iets wat ek eendag gaan toepas. Dis een ding om in ʼn klas te leer wat arbeidsverhoudinge is, maar dis iets heel anders om te beleef hoe dit in die praktyk lyk,” sê sy. “Hierdie internskap het my nie net vaardighede geleer nie, maar het my ook laat besef dat ek definitief in hierdie rigting wil werk.”

Netwerk, mentorskap en loopbaanrigting

ʼn Belangrike doel van die internskap is om studente nie net te bemagtig met kennis nie, maar ook met netwerkgeleenthede, mentorskap en rigting vir hul loopbane. Die studente kry die kans om met regspraktisyns, organisasiehoofde en ander rolspelers kontak te maak – en sommige van hulle het selfs in vorige jare permanente poste by Solidariteit losgeslaan.

Al waarborg die program nie ʼn aanstelling nie, wys dit hoe ʼn internskap die deurgang kan wees tot ʼn betekenisvolle beroep in arbeidsverhoudinge of arbeidsreg.

Moenie hierdie geleentheid misloop nie

Hierdie program word jaarliks deur Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap, in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk, gefasiliteer. Dit is spesifiek gemik op finalejaarstudente wat belangstel in ʼn loopbaan in arbeidsregverhoudinge of regspleging. Dis ʼn unieke kans om uit te staan, te leer, en ervaring in die “regte wêreld” van werk op te doen.

Wil jy volgende jaar deel van dié ervaring wees? Hou Solidariteit dop, en begin nou al werk aan jou CV.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel