loading
Artikels
1 week gelede
wees-seker-van-werk-in-n-onseker-ekonomie

Foto Krediet: OkayDeer

Wees seker van werk in ʼn onseker ekonomie

Deur Karen Waldeck

Ons leef in uitdagende tye waar ekonomiese onsekerheid al hoe meer ontstaan. Die risiko om jou werk te verloor is ʼn werklikheid waarmee baie Suid-Afrikaners daagliks worstel. Of dit nou as gevolg van afleggings, maatskappy-omskakelings of bloot die algehele swak ekonomiese klimaat is, om verseker te wees van jou werk is nie meer iets wat vanselfsprekend is nie.

Dit is belangrik om strategies te dink en aksie te neem om jou kanse op werksekerheid te verbeter, selfs in ʼn onseker ekonomie. Hier is ʼn paar wenke om jou te help om nie net jou huidige werk te behou nie, maar ook om jou toekoms te verseker, ongeag wat oor jou pad mag kom.

1. Bou aan jou noodfonds

ʼn Noodfonds is een van die belangrikste bates wat jy in onsekere tye kan hê. Dit gee jou nie net gemoedsrus nie, maar bied ook ʼn sin van veiligheid vir wanneer dinge skeefloop. Deur ʼn noodfonds te hê, maak jy voorsiening vir onverwagte uitgawes soos mediese noodgevalle of selfs om tydelik sonder ʼn inkomste wees sou jy jou werk verloor. Finansiële kundiges beveel aan om ten minste drie tot ses maande se lewenskoste in jou noodfonds te hê. Old Mutual bied praktiese raad oor hoe om ʼn noodfonds te begin en konsekwent daartoe by te dra.

2. Bly relevant in jou werk deur voortgesette leer

Die wêreld verander teen die spoed van lig en die vaardighede wat gister van jou verwag is, is dalk vandag nie meer genoeg nie. Dit is noodsaaklik om voortdurend aan jou vaardighede te werk en nuwe kennis op te doen. Deur in jouself te belê deur aanlyn kursusse, seminare en ander leergeleenthede te volg, verseker jy dat jy relevant in jou bedryf bly. Jy kan jou werkgewer ook wys dat jy toegewyd is aan jou professionele ontwikkeling. Solidariteit bied  130 verskillende kursusse aan wat jou kan help om jou vaardighede te slyp – en dis byna almal gratis vir lede van Solidariteit!

3. Bou aan jou aanlyn teenwoordigheid

In vandag se digitale era, is dit noodsaaklik om ʼn sterk aanlyn teenwoordigheid te hê. Dit is nie net vir maatskappye belangrik om hulself te bemark nie, maar ook vir individue. ʼn Goedversorgde LinkedIn-profiel kan ʼn groot verskil maak wanneer jy jouself bemark vir toekomstige werksgeleenthede. Maak seker dat jou profiel altyd op datum is met jou nuutste prestasies, vaardighede en verwysings. Deel relevante inhoud en neem deel aan gesprekke in jou bedryf om jou sigbaarheid te verhoog.

Skep ook vir jou ʼn gratis profiel op Solidariteit, die grootse Afrikaanse werkfasiliteringsplatform, waar jy kan werk soek binne jou spesialiteit.

4. Bou en onderhou jou netwerk

Jou netwerk is een van jou waardevolste hulpbronne wanneer dit kom by werksekerheid. Deur sterk verhoudings met kollegas, mentors en ander professionele persone in jou bedryf te bou, verhoog jy jou kanse om nuwe geleenthede raak te loop. Dit is belangrik om nie net kontak te maak nie, maar ook om hierdie verhoudings gereeld te onderhou. Woon netwerkgeleenthede by, sluit aan by jou relevante Solidariteit-beroepsnetwerk, waar jy op hoogte kan bly van nuutste tendense in jou beroep en bou ook jou netwerk aanlyn uit. Dit is dikwels nie wat jy kan doen nie, maar wie jy ken wat die verskil maak!

5. Bly proaktief en wees voorbereid

In ʼn onseker ekonomie, is dit belangrik om altyd proaktief te wees. Moenie wag totdat die ergste gebeur nie, neem nou al aksie om jouself voor te berei. Dit beteken dat jy jou CV gereeld moet bywerk, gereed moet wees vir onderhoude en nuwe geleenthede moet raaksien wanneer dit aan jou deur klop. Deur altyd voorbereid te wees, sal jy vinniger kan reageer as die situasie verander.

Ons almal hoop werkloosheid is nie iets is wat ons self in die gesig hoef te staar nie, maar die realiteit is dat ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Deur strategies te dink en proaktief te wees, kan jy jou kanse verbeter om jou werk te behou en selfs vinnig ʼn nuwe werk te verseker as jy afgelê word. Onthou, jou toekoms lê in jou eie hande. Belê in jouself, bou aan jou netwerk en bly relevant. Só kan jy, ongeag wat die ekonomie oor jou pad bring, jou werksekerheid verhoog.

Sluit aan by Solidariteit en bou saam aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel