
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Welkom by jou Studentelewe op Solidariteit
Deur Marike Burger, koördineerder: Studente en Jongwerkende by Solidariteit
Die nuutste Studente-aanbod toevoeging tot Solidariteit se platform is tydens ʼn glansgeleentheid by die Voortrekkermonument bekendgestel. Dié splinternuwe groep, Studentelewe, gee aan studente eksklusiewe toegang tot Solidariteit se Studente-aanbod.
Dit is nie blote toeval dat die Voortrekkermonument gekies is om dié nuutste toevoeging aan te kondig nie. Die Voortrekkermonument is ʼn plek wat ons voorouers help bou het omdat hulle hoop gehad het vir ʼn toekoms in Suid-Afrika. Hoeveel meer hoop het ʼn mens nodig as om kaalvoet oor die Drakensberge te trek vir iets waarin jy glo? Dit is nou ons beurt om hoop te hê vir ʼn toekoms in ons pragtige land. Die Voortrekkermonument is ʼn simbool van hoe ons al deur generasies heen hoop het vir Suid-Afrika en ʼn voorspoedige toekoms in ons land. Solidariteit het ʼn Studente-aanbod daargestel en ontwikkel omdat ons hoop het vir die land en vir jong mense om ʼn toekoms in Suid-Afrika te bou.
Deel van voorspoed vir jou toekoms is om te kan werk. Hetsy dit vir jouself of vir ʼn werkgewer is. Jy werk om jou voorspoed en sukses te verseker. Ons wil hoop skep vir jou om te kan werk, en in ruil wil ons vir Suid-Afrika hoop skep deur seker te maak dat studente bemagtig in hul werkplek instap. Deur Solidariteit se Studente-aanbod kan studente leer hoe om hul eerste CV op te stel, wenke kry vir hul eerste onderhoud, skaduwerk doen om met ervaring by hul eerste werk in te stap en netwerke bou.
Dit is ʼn groot voorreg om hierdie opwindende en nuwe inisiatief te loods. Hierdie groep is spesifiek met studente in ons gedagtes geskep. Ons doel is eenvoudig, maar kragtig: om vir studente die geleenthede te bied wat hulle nodig het om suksesvol in hul loopbaanreise te wees.
Wat gaan jou laat uitstaan bo 50 ander kandidate met presies dieselfde kwalifikasie wat vir dieselfde pos aansoek doen?
Elke student het ʼn droom en ʼn visie vir hul toekoms, maar soms tussen die akademiese druk en persoonlike uitdagings deur, kan daardie droom vervaag of onbereikbaar voel. Dit is hier waar ons Studentelewe-groep intree. Ons is hier om studente te ondersteun, te motiveer en te lei deur elke stap van hulle pad as student.
Dink terug aan die dag toe jy besluit het om jou spesifieke studierigting te volg. Wat is die goed wat jy wens jy geweet het oor jou studie voordat jy begin het? Was daar inligting wat jy agterna besef het onontbeerlik was? Studente het ons laat weet dat hulle onder andere sou wou weet wat die loopbaanmoontlikhede is, wat presies hulle studie gaan behels, hoe hulle hulle akademiese kennis in die werkplek kan toepas, en hoe hulle kan netwerk en hulle netwerke aanwend.
In ʼn land met vele uitdagings, wat gee vir jou hoop vir ʼn toekoms in Suid-Afrika? Is dit die geleenthede wat ons steeds het, die passie van ons mense of dalk iets anders? Jou hoop en visie vir die toekoms is die kern van wat ons probeer bou – ʼn ondersteunende omgewing waar elkeen sy of haar volle potensiaal kan bereik.
Waarna sien jy die meeste uit wanneer jy klaar gestudeer het? Is dit die vooruitsig van jou eerste werk? Die kans om ʼn verskil te maak of dalk die geleentheid om jou kennis en vaardighede te gebruik om ʼn beter toekoms te skep? Of is dit dalk net om klaar te maak met jou studie?
Ons Studentelewe-groep is ontwerp om hierdie vrae aan te spreek en oplossings te bied. Ons bied mentorskapprogramme aan waar jy met professionele persone in jou veld kan netwerk en waardevolle advies kan kry. Ons reël werkwinkels en interaktiewe sessies wat fokus op die ontwikkeling van noodsaaklike vaardighede soos die samestelling van jou CV, onderhoudvoering en werksetiek. Jy kry toegang tot kenners in jou beroep deur Solidariteit se beroepsnetwerke. Hierdie mense kan ook jou toekomstige professionele netwerke word of self toekomstige werkgewers.
Ons wil ook ʼn platform skep waar julle julle suksesse en uitdagings kan deel. Deur van mekaar te leer kan ons almal sterker en beter voorbereid wees vir die toekoms. Ons glo dat elke student iets unieks na die tafel bring en deur saam te werk kan ons groot dinge bereik.
Hierdie Studentelewe groep is meer as net ondersteuningsnetwerke. Dit is ʼn gemeenskap. ʼn Gemeenskap wat glo in die potensiaal van elke individu en wat daartoe verbind is om te help dat elkeen sy of haar drome kan bereik.
Solidariteit wil elke studente uitnooi om aktief deel te neem om voordeel te trek uit die geleenthede wat aangebied word.
Saam kan ons ʼn toekoms bou waar elkeen sy volle potensiaal kan bereik. Sluit vandag nog aan by die Studentelewe-groep.