
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Wenke vir jou boedelpakkie
Deur Ané Janse van Rensburg
Daar is min dinge in die lewe waarvan ons beslis seker kan wees. Die waarde van voorbereiding vir elke fase van jou lewe is egter onmiskenbaar. Daarom glo Solidariteit dat dit belangrik is om eerder vroeër as later jou boedelbeplanning in orde te hê.
Solidariteit se Finansiesnetwerk gesels met Madeleen van den Berg, besturende direkteur van attooh!, oor jou boedelpakkie, die moets en moenies en hoe jy te werk kan gaan om jou dokumente in orde te kry.
Wat is die grootste fout wat mense met hulle boedel maak?
Dit is om nié te beplan nie … Die enigste waarborg in ʼn mens se lewe is die dood, en dit is verstommend hoe min mense selfs net daaroor wil praat – wat nog te sê daarvoor beplan!
Dit is een van die belangrikste aspekte van ʼn mens se lewe wat deeglik beplan moet word. Die persepsie onder mense is bloot dat dit maar net “ryk” mense is wat boedelbeplanning nodig het – en dit is so ʼn verkeerde persepsie. Elke enkele mens wat sterf se boedel moet deur dieselfde proses gaan, naamlik om die boedel af te handel, ongeag of dit solvent of insolvent is.
Wat sou jy sê is die “goue reël” as dit kom by die hantering van jou boedel?
Begin by ʼn bygewerkte testament – dit is die heel eerste stap. Elke persoon ouer as 18 moet sy eie testament hê.
Oorweeg deeglik wie jy as die eksekuteur van jou boedel aanstel – hierdie benoeming is van kardinale belang vir die suksevolle uitvoering van jou wense.
Deeglike gesprekke met jou geliefdes/erfgename sodat almal ingelig is, is belangrik. Die grootste rusies in families vind plaas ná die tyd – en wanneer niemand geweet het wat in testament staan nie
ʼn Boedel is ʼn groot taak om aan te pak. Waar begin ʼn mens?
Begin by ʼn testament. Daar is wonderlike finansiele adviseurs wat jou met boedelbeplanning kan help – daar is kostes aan verbonde om ʼn boedel af te handel en dit is gebaseer op die waarde van jou boedel. Sonder deeglike berekeninge kan daar tekorte wees. Jou adviseur sal ook raad gee oor die benoeming van begunstigdes op polisse en op al jou ander bates aangesien dit ʼn impak kan hê op die kostes om die boedel te beredder.
Het jy advies vir mense rakende hul boedel?
Bly weg van ʼn testament wat te ingewikkeld is, maar maak seker jy dateer jou testament op soos jou lewe verander.
Los al jou dokumente vir jou geliefdes alles bymekaar. Die nodige dokumente word verderaan gelys.
Kry finansiële advies om seker te maak al die berekeninge is korrek gedoen. Praat met jou familie – oop gesprekke spaar baie hartseer en trane.
Voorbereiding is beslis die beste voorbrand. Solidariteit wil saam met jou elke lewensfase aanpak, selfs díe fases wat onbekend en onseker is. Word vandag deel van Solidariteit en durf die klein takies aan wat jou en jou naastes kan bemagtig om met sekerheid die toekoms in te stap!